Nuus 08:00
BULLETIN 7 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa woon Rwanda se volksmoord-herdenking by
# Amnestie Internasionaal SA stel sy menseregte-manifes bekend
# En, rugby: Die Bulls dring deur na die volgende ronde van die Kampioenebeker, terwyl die Stormers net-net nie die paal haal nie
# President Cyril Ramaphosa is in Rwanda vir die 30ste herdenking van die 1994-volksmoord teen die Tutsi. Rwanda herdenk die tydperk van 100 dae, wat begin het op 7 April 1994, en uitgeloop het op meer as ‘n miljoen sterftes, hoofsaaklik onder etniese Tutsis. Ramaphosa sluit hom aan by die president van Rwanda, Paul Kagame, in ‘n kransleggingsplegtigheid by die Kigali-volksmoord-gedenkteken, gevolg deur die nasionale herdenking en nagwaak by die BK Arena.
# Amnestie Internasionaal SA het sy menseregtemanifes onthul. Dit fokus op tien kwessies wat deurslaggewend is vir politieke partye en kandidate om te onderskryf, wat sal verseker menseregte word gestand gedoen. Die uitvoerende direkteu,r Shenilla Mohamed, beklemtoon kieser-aanspreeklikheid voor, tydens en ná die verkiesing. Sy sê die manifes lig kwessies uit, soos mynmaatskappye se maatskaplike en arbeidsplanne, om tot voordeel te wees van gemeenskappe, werkers en plaaslike ontwikkeling:
Die Demokratiese Alliansie het intussen sy provinsiale manifes in die Paarl in die Wes-Kaap bekend gestel, wat sewe beloftes aan kiesers insluit en ‘n mandaat vra vir die volgende vyf jaar aan bewind. Die premierkandidaat Alan Winde het die party se prestasiegeskiedenis in die provinsie beklemtoon. Beloftes sluit in werkskepping, die vermindering van beurtkrag, die verbetering van onderwys en gesondheidsorg, misdaadbekamping, die verkryging van beheer oor polisiëring en vervoer, en die bestuur van ‘n skoon regering. Winde het kiesers aangemoedig om bewese leierskap te steun vir ‘n beter provinsie:
# Rugby: Ondanks beserings onder die voorspelers van die Stormers, was dit net ‘n mislukte doelskop deur Manie Libbock op die nippertjie in hulle Kampioenebekerwedstryd in Kaapstad teen die titelhouers, La Rochelle, wat die Franse span laat deurdring het, met ‘n enkele punt. Die eindtelling was 22-21. Die Stormers was tot rustyd goed voor.
Op Loftus Versfeld het die Bulle die Franse span Lyon met 59-19 afgeransel. Die Bulle wag nou vir die uitslag van vandag se wedstryd tussen Northampton en Munster om uit te vind of hulle ‘n tuis- of weg-kwarteindwedstryd sal speel.
# En, laastens: Stormsterk wind, waaroor ernstige waarskuwings die afgelope 24 uur uitgereik is, saai van gister af verwoesting in die Wes-Kaap. Die sleepwa van ‘n vragmotor is van die brug tussen die Hugenotetonnel en die N1 Tolplaza afgewaai, waarna die tonnel gisternag in beide rigtings vir vragmotors gesluit was. News24 berig, in nog twee ongelukke op die R44, tussen Hermon en Gouda, het ‘n karavaan en ‘n bakkie omgeslaan, terwyl ‘n bestuurder met sy leë bus twee kilometer verder in ‘n sloot beland het. Geen beserings is aangemeld nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….