Nuus 08:00
BULLETIN 20 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK werk saam met tegnologiereuse om aanlyn verkiesingsdisinformasie te bekamp
# Die burgemeester van Tshwane erken nalatigheid met die watervoorsiening in Bronkhorstspruit
# En Donald Trump blameer immigrante vir die betogings in Frankryk
# Die Verkiesingskommissie is in ’n vennootskap met Google, Meta, Microsoft, TikTok en die organisasie sonder winsoogmerk, Moxii Africa, om waninligting te bekamp en die integriteit van volgende maand se plaaslikeregeringsverkiesing te beskerm. Hierdie gesamentlike inisiatief beoog om doelbewuste waninligtingsveldtogte asook skadelike inhoud op sosiale media en digitale platforms, tydens hierdie polities kritieke tydperk aan bande te lê. Die OVK se hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo, sê hierdie aanlyn platforms se strategiese betrokkenheid bied die kommissie direkte toegang en ’n werklike kans om waninligting suksesvol te beveg:
# JustMoney sê Suid-Afrikaners ervaar toenemende finansiële druk. Die maatskappy se Money & Me 2026-peiling, wat in Julie en Augustus onder meer as vyf-duisend-400 mense gedoen is, het bevind 65-persent ervaar elke maand as finansieel uitdagend, ‘n toename van 61-persent teenoor verlede jaar. ‘n Woordvoerder vir JustMoney, Judy Bryant, sê slegs tien-persent voel vol vertroue oor hul inkomste, terwyl 43-persent geld leen voor die einde van die maand. Sy voeg by meer as die helfte van die respondente bestee meer as 40-persent van hul inkomste aan skuld, teenoor verlede jaar se 38-persent.
# Tshwane-burgemeester Nasiphi Moya erken dat nalatigheid veroorsaak het dat water nie met chloor behandel is nie. Sy sê die metro se chloor het opgeraak na ‘n geskil met die verskaffer. Volgens die nasionale Departement van Water en Sanitasie se ondersoek, het Tshwane drie weke lank onbehandelde water aan gemeenskappe in Bronkhorstspruit verskaf sonder om inwoners in kennis te stel dat dit onveilig is. Dit het veroorsaak dat minstens 408 mense, hoofsaaklik kinders, maagdermsiektes opgedoen het. Moya sê hulle sal optree teen amptenare wat verantwoordelik is vir die bestuur van Bronkhorstspruit se watersuiweringsaanlegte:
# President Donald Trump sê immigrante is die oorsaak van die vlaag betogings en geweld in Frankryk. Die betogings het verlede maand begin met studente wat beter toestande in skole eis, maar het intussen uitgebrei om ontevredenheid oor stygende brandstofpryse en lewenskoste in te sluit. Die Franse president, Emmanuel Macron, beskryf die geweld as die werk van “opruiende elemente uit ver-linkse faksies, vergesel deur talle misdadigers.” Trump het by ʼn saamtrek in Kansas gesê Macron se immigrasiebeleid is ʼn “groot fout”:
# Sokker: Die Portugese Sokkerfederasie het Cristiano Ronaldo vir 30 dae geskors en met vier-duisend-700-rand beboet omdat hy verlede maand die nasionale span tydens die UEFA-nasiesliga-veldtog verlaat het. Die 41-jarige speler het die groep verlaat voor Portugal se kragmeting teen Denemarke op 30 September, na ʼn geskil met hoofafrigter Jorge Jesus, oor beskuldigings van gebreekte beloftes oor sy speeltyd. Ronaldo se skorsing begin op die dag van die wedstryd teen Denemarke, wat beteken hy sal volgende maand beskikbaar wees vir Portugal se Nasiesliga-wedstryde teen Denemarke en Wallis.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 18-rand-42-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-796-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-143-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 111-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….