Nuus 08:00
BULLETIN 4 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA hoop Mapisa-Nqakula se bedanking sal lei tot spoedige vervolging
# Die Spesiale Ondersoekeenheid gaan ‘n voormalige Eskom-bestuurder se bates opveil om nagenoeg R25-miljoen te verhaal
# En reddingspogings gaan voort ná Taiwan se kragtigste aardbewing in 25 jaar
# ActionSA het wat hy noem, die langverwagte bedanking van die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, verwelkom, maar sê aanspreeklikheid sal eers werklik kom wanneer die ANC uit die kussings gelig is. Mapisa-Nqakula staan tereg op tot 12 aanklagte van korrupsie en omkopery wat spruit uit haar tyd as minister van Verdediging. Die ActionSA-leier, Herman Mashaba, sê hy meen dit is ‘n positiewe stap vorentoe vir Mapisa-Nqakula se spoedige vervolging, te midde van die Nasionale Vervolgingsgesag se onvermoë tot dusver om enige hoëprofiel-korrupsievervolging suksesvol deur te voer:
Die IVP het intussen die onmiddellike bedanking van die speaker verwelkom. Die IVP se woordvoerder, Mkhuleko Hlengwa, sê dit is ‘n verantwoordelike besluit deur Mapisa-Nqakula, wat haar in staat stel om op haar regsake te fokus sonder om die Parlement verder in te sleep:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid sê deur die Batebeslagleggingseenheid het hy ‘n bevel verkry om beslag te lê op die bates van die voormalige Eskom-bestuurder Duduzile Moyo en haar man. ’n Luukse eiendom in die Silver Lakes-landgoed in Pretoria en twee voertuie is van die bates wat opgeveil gaan word om verliese wat deur Eskom gely is, te verhaal. Die SOE-woordvoerder, Kaizer Kganyago, sê Moyo het na bewering byna 25-miljoen-rand verduister, toe sy Tamukelo Business Enterprise gekontrakteer het om water van die Kendell- na die Kusile-kragstasie te vervoer:
# Reddingspogings duur voort ná die aardbewing van 7,4 wat Taiwan se ooskus gister geruk het. Nege mense is dood en meer as duisend beseer. Reddingswerkers probeer nog om 77 mense te bereik wat in die Jinwen- en Qingshui-tonnels op die pad in die Hualien-distrik vasgekeer is. Meer as 100 geboue is beskadig in die skudding wat grondstortings en 50 na-skokke tot gevolg gehad het. Dit was die ergste skudding in Taiwan sedert 1999 toe twee-duisend-400 mens in ‘n aardbewing van 7,6 dood is.
# Tennis: Die tweemalige kampioen Simona Halep het is ‘n promotorskeuse vir die Madrid Ope wat op 22 April begin. Die Roemeen het haar eerste verskyning gemaak sedert haar vier jaar-boete vir ‘n oortreding van die verbode middel-reël deur die Hof van Arbitrasie vir Sport verminder is tot nege maande, toe sy verlede maand in die Miami Ope gespeel het. Caroline Wozniacki van Denemarke, Kei Nishikori van Japan, en die Spanjaard, Martín Landaluce, is ook promotorskeuses vir die kleibaantoernooi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-67-sent teen die dollar, 20-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-682-dollar-77-sent. Die prys van goud is twee-duisend-299-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 89-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….