Nuus 08:00
BULLETIN 3 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ’n Kragtige aardbewing het die ooskus van Taiwan getref
# Die Batebeslagleggingseenheid verkry ‘n bewaringsbevel van 43-miljoen-rand oor bedrog by die DRK-ambassade
# En, krieket: De Kock en Yadav help die Lucknow Super Giants om in die IPL te wen
# ’n Kragtige aardbewing van 7,4 het die ooskus van Taiwan getref, en die dood van een persoon veroorsaak, en meer as 50 beseer. Volgens nooddienste is mense vasgekeer nadat die aardbewing die ineenstorting van minstens 26 geboue veroorsaak het, insluitend in die toeristestad Hualien. Die Taiwanse president Tsai Ing-wen sê sy het haar administrasie opdrag gegee om die nodige bystand te verleen en die uitwerking van die ramp so ver moontlik te beperk. Tsunami-waarskuwings is ná die aardbewing uitgereik vir Taiwan, Japan en die Filippyne. Dit is die kragtigste aardbewing in Taiwan in 25 jaar.
# Die Batebeslagleggingseenheid het ‘n bewaringsbevel van meer as 43-miljoen-rand suksesvol verkry. Hierdie bevel omvat vier eiendomme en twee bankrekeninge wat verbind word met die voormalige militêre attaché vir die Demokratiese Republiek van die Kongo in Suid-Afrika, Ngoy Timothee Makwamba. Die streekwoordvoerder van die NVG, Lumka Mahanjana, sê Makwamba was na bewering betrokke by ‘n transaksie waar die ambassade van die DRK 49,6-miljoen-rand aan die Denel-groep betaal het vir die verkryging van wapens:
# Inwoners van Wyk 109 in Kaapstad is woedend oor die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika se planne om onwettige bewoners te verskuif wat langs hul sentrale spoorlyn na Macassar bly. Prasa beplan om vyf-duisend-195 huishoudings wat op die spoor-reserwestrook woon, in twee fases te hervestig. Die agentskap het 643 miljoen rand belê in die rehabilitasie van die spoorweginfrastruktuur. Die Wyk 109-raadslid, Peter Helfrich, sê Prasa en die Behuisingsontwikkelingsagentskap, was nie deursigtig met inwoners nie:
# Die Vryheidsfront Plus sê hy steun die besluit van Tshwane se stadsbestuurder, Johan Mettler, om kostebesparende maatreëls in te stel vir spysenieringsuitgawes. Luidens ’n verslag deur die Tshwane Metroraad se Openbare Rekeninge-komitee is ’n bedrag van 119-duisend-270-rand uit die uitgekontrakteerde spysenieringsbegroting vir die 2021/2022-boekjaar aan Nendou Trading toegeken sonder voldoende toesig. Die VF Plus sê dit beklemtoon ‘n gebrek aan deursigtigheid in tenderprosesse, want fakture en kwotasies vir uitgawes, soos deur standaardprosedure vereis, is nie verskaf nie.
# Krieket: Lucknow Super Giants het ‘n oorwinning van 28 lopies teen die Royal Challengers Bengaluru beklink en só agtereenvolgende oorwinnings aangeteken in die Indiese Premierliga in Bengaluru. Quinton de Kock het 81 van 56 balle aangeteken met die Super Giants wat 181 vir vyf in hul 20 boulbeurte aangeteken het. Die Suid-Afrikaanse aanvangskolwer het die agtste oorsese speler geword wat drieduisend IPL-lopies kon behaal. Mayank Yadav het geantwoord met drie paaltjies, met RCB wat vir 153 uitgeboul is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-78-sent teen die dollar, 20-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-134-dollar-59-sent. Die prys van goud is twee-duisend-284-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 88-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….