Nuus 08:00
BULLETIN 16 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse regering is bekommerd oor die hernieude aanvalle in die Rooisee-streek
# Sowat 200 mense is by ‘n onwettige rehabilitasiesentrum in Mpumalanga gevind
# En drie kinders en ‘n onderwyser is deur ‘n 16-jarige in Oregon doodgeskiet
# Die Suid-Afrikaanse regering sê hy is bekommerd oor die huidige toename in aanvalle in die Rooisee-streek, veral in en om die Straat van Bab el-Mandeb, en aanvalle op Saoedi-Arabië. Jemen se Houthi-rebelle het hommeltuig- en missielaanvalle oor die grens verskerp, insluitend ‘n aanval op die Koning Khaled Internasionale Lughawe in Riaad waarin 13 mense dood is. Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê hierdie optrede bedreig Saoedi-Arabië se soewereiniteit. Hy vra alle partye om hulle te weerhou van optrede wat onbestendigheid in die streek kan vererger.
# Die Madlanga-kommissie het bewerings deur die omstrede sosiale vlinder Serge Cabonge van moontlike inmenging by ‘n strafregtelike ondersoek as vals en ongegrond verwerp. Die aantygings is in ‘n stemopname onthul wat tydens die borgtogverrigtinge van die voormalige adjunkkommissaris van Polisie, Shadrack Sibiya in die Randburgse landdroshof gespeel is. Die kommissie se woordvoerder, Jeremy Michaels, sê geen kommissarisse of getuienisleiers het Cabonge ontmoet, met hom gepraat, of op enige ander wyse met hom gekommunikeer nie:
# Polisie in Mpumalanga ondersoek ʼn ongeregistreerde rehabilitasiesentrum in Waterval B naby Siyabuswa nadat ongeveer 200 mense op die perseel gevind is. Hulle was volgens berigte vasgebind en verhonger. Die groep het sowat 30 vroue ingesluit. Die sentrum word blykbaar bedryf deur ʼn kerk onder bestuur van ʼn pastoor en sy vrou. Die polisie sê die groep sluit mense in van Soweto, Springs en Rustenburg. Die woordvoerder van Mpumalanga se Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, Tebogo Matoane-Nkabinde, het aan Newzroom Afrika gesê die mense is tydens ʼn roetine-ondersoek gevind:
# Drie kinders van vyf, agt en elf, en ʼn onderwyser is doodgeskiet by die Silver Rail Elementary School in die Amerikaanse staat, Oregon. Die 16-jarige aanvaller het toegang tot die skool gekry deur na gesluite deure te skiet. ʼn Sewejarige kind en nog ʼn onderwyser is gewond. Die hoof van Bend se polisiedepartement, Mike Krantz, sê hulle het gereageer nadat hulle ʼn oproep ontvang het dat ʼn gewapende persoon op ʼn motor geskiet het voor hy die skool met ʼn lang geweer binnegegaan het:
# Motorsport: President Cyril Ramaphosa het Rwanda se president, Paul Kagame, en sy regering gelukgewens met ʼn tienjaar-ooreenkoms om die Formule Een Afrika Grand Prix aan te bied. Rwanda sal vroeg in die 2030’s op die program verskyn. Ramaphosa beskryf die ooreenkoms as erkenning van die land se vermoë om gasheer te wees vir groot sportgeleenthede. Hy sê as gasheer van die eerste Grand Prix in Afrika in 1993, en organiseerder van ander groot wêreldgeleenthede, sal Suid-Afrika alle steun aan Rwanda bied.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-48-sent teen die dollar, 18-rand-49-sent teen die euro en 21-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-938-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-169-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 107-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….