Nuus 08:00
BULLETIN 6 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die president van die Reserwebank sê Suid-Afrika se stadige ekonomiese groei is te wyte aan staatskaping
# Die Parlement doen ‘n beroep op dringende optrede om Suid-Afrika se reaksie op bek-en-klouseer te versterk
# En Zelensky vra opnuut vir meer lugverdedigingstelsels na ‘n dodelike Russiese aanval
# Die president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, Lesetja Kganyago, sê die land se ekonomie groei teen ‘n stadige tempo ten spyte van die aanvaarding van die regte makro-ekonomiese beleid, as gevolg van jare van staatskaping. Die land se bruto binnelandse produk het verlede jaar met 1,1-persent gegroei, terwyl die Nasionale Tesourie ‘n groeikoers van 1,4-persent verwag het. In die eerste kwartaal van hierdie jaar het die ekonomie met 0,5-persent gegroei. Kganyago het tydens ‘n openbare lesing by UNISA in Pretoria gesê om van stagnante groei weg te kom, moet Suid-Afrika riskante dinge probeer:
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Landbou doen ‘n beroep op dringende maatreëls om strukturele swakhede aan te spreek wat Suid-Afrika se vermoë steeds ondermyn om bek-en-klouseer te beheer en uiteindelik uit te roei. Suid-Afrika het 17-miljoen entstofdosisse ingevoer as deel van die nasionale siektebeheerstrategie. Die komitee sê onvoldoende befondsing bly een van die grootste struikelblokke vir effektiewe siektebeheer. Hy voeg by dat volhoubare befondsing ‘n nasionale prioriteit moet word as die land sy dieregesondheidstatus wil herstel, voedselsekerheid wil beskerm en uitvoermarkte wil beskerm.
# Die Gautengse LUR vir Onderwys, Sport, Kuns, Kultuur en Ontspanning, Lebogang Maile, sê ouers en voogde het steeds vertroue in die provinsie se aanlyn toelatingstelsel. Die departement het goed weggespring met sy aanlyn toelatingsaansoektydperk vir 2027, en meer as 210-duisend Graad 1- en Graad 8-aansoeke is binne die eerste vier uur ontvang na die stelsel gister in werking gestel is. Maile sê vroegtydige aansoeke bied genoeg tyd om enige uitstaande sake op te los en verbeter die kanse op ‘n gladde plasingsproses:
# Die Oekraïnse president Volodymyr Zelensky het sy beroep op bondgenote herhaal om die militêre toerusting te verskaf wat nodig is om Russiese missiele af te skiet. Minstens 17 mense is gister in Kiëf en omliggende gebiede dood, toe Moskou meer as 24 ballistiese en teen-skip-missiele afgevuur het. Rusland het volgens berigte 115 hommeltuie en 24 ballistiese missiele afgevuur, en Kiëf se uitgeputte lugverdediging kon nie een van die missiele onderskep nie. Zelensky sê bondgenote wat nie gereed is om nou meer aktief te help met die voorsiening van onderskeppers nie, kan help deur nog sanksies teen Moskou in te stel.
# Netbal: Die nasionale netbalkampioenskappe, Suid-Afrika se grootste jaarlikse interdistriktoernooi, begin vandag by die Stellenberg Hoërskool in Kaapstad. Altesaam 122 spanne neem deel, bestaande uit 58 senior distrikspanne en 64 o.21-spanne, met byna een-duisend-900 spelers wat vir die ses dae van die kompetisie saamtrek. Die verdedigende kampioene van Johannesburg gaan probeer om die nasionale titel vir ‘n vyfde agtereenvolgende keer in te palm. Die president van Netbal Suid-Afrika, Mami Diale, sê die toernooi was nog altyd ‘n waardevolle platform vir universiteitsklubs en afrigters om nuwe talent te ontdek:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-32-sent teen die dollar, 18-rand-85-sent teen die euro en 21-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-499-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-279-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….