Nuus 08:00
BULLETIN 13 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement vra die polisie om Shadrack Sibiya se moontlike misdadige gedrag te ondersoek
# Minister Macpherson doen regstappe oor ‘n vakansie-ontwikkeling op staatsgrond
# En Noord-Korea toets ‘n taktiese missiel
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Polisie sê enige vermeende misdadige optrede waarby die nasionale adjunk-polisiekommissaris, Shadrack Sibiya, betrokke is, moet ondersoek word en waar nodig moet aanklagte ingedien word. Die komiteevoorsitter, Ian Cameron, waarsku Sibiya se vertrek uit die diens moet hom nie vrywaar van aanspreeklikheid nie. Hy sê die komitee het nog altyd beklemtoon dat misdadige elemente heeltemal uit die stelsel verwyder moet word sodat dit doeltreffend kan funksioneer:
# MOVE SA vra die regering om doeltreffende en wettige maatreëls in te stel om spanning tussen plaaslike gemeenskappe en buitelanders te verlig. Hy beklemtoon die behoefte aan verantwoordelike leierskap, deursigtige kommunikasie en konsekwente toepassing van hofuitsprake. Die partyleier Rali Mampeule sê die regering moet proaktief optree om die onderliggende oorsake van spanning aan te spreek en verdere xenofobiese geweld te keer. Hy sê dit sluit in dat die Konstitusionele Hof se beslissings oor immigrasie en asiel-prosedures doeltreffend ingestel word:
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, neem die onwettige besetting van staatsgrond naby Grabouw na die Wes-Kaapse Hooggeregshof. Die eiendom van twee-duisend hektaar langs die N2 word reeds jare lank beset, en daar word beweer mense bou vakansiehuise daar met grond wat onwettig verkoop word. Macpherson sê die besetting het bosbouprojekte verhoed wat bedoel was om nabygeleë boerderygemeenskappe te bevoordeel.
# Noord-Korea sê hy het ‘n taktiese ballistiese missiel afgevuur en beweer die toets bevestig ʼn opgradering aan ʼn belangrike onderdeel van die missiel. Die staat se nuusagentskap, KCNA,het die toets vroeër bekendgemaak, maar geen tegniese besonderhede verskaf nie. Suid-Korea se leër sê Noord-Korea het gister verskeie ballistiese missiele in die see aan sy ooskus afgevuur. Dis die vierde missiel binne ʼn maand wat Pyongyang afvuur nadat Suid-Korea onlangs ʼn hipersoniese missiel getoets het. Die jongste voorval verhoog die spanning op die Koreaanse Skiereiland.
# Tennis: Carlos Alcaraz is by die Sjanghai Meesters uitgeskakel toe hy in skoon stelle teen die Belg, Zizou Bergs, verloor het. Die ongekeurde Bergs het die tweede gekeurde Spanjaard verslaan om die grootste oorwinning van sy loopbaan te behaal. Intussen het Stefanos Tsitsipas van Griekeland teruggeveg en die Amerikaner, Taylor Fritz, geklop. Hy kom in die vierde ronde teen die Rus, Daniil Medvedev, te staan wat die kwalifiseerder Dalibor Svrcina in skoon stelle afgeransel het. Felix Auger-Aliassime, Casper Ruud en Rafael Jodar is ook deur na die laaste 16.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 18-rand-47-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-849-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-182-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 107-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….