Nuus 08:00
BULLETIN 29 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# 45 mense sterf in ‘n grusame busongeluk naby Mokopane
# Die OVK ontken bewerings dat Arise SA van die stembrief verwyder is
# En in rugby, die Bulle skop vanaand die aksie af vir Suid-Afrikaanse spanne in die Verenigde Rugbykampioenskap
# Minstens 45 mense is laat gistermiddag dood in ‘n busongeluk op die R518 in die Waterberg-distrik in Limpopo, met die enigste oorlewende ‘n agtjarige meisie. Die bestuurder het blykbaar beheer verloor op die Mmamatlakala-brug naby Mokopane. Die bus het oor die kant van die brug gestort en in vlamme uitgebars toe dit die grond 50 meter laer getref het. Die bus was van Botswana na Moria op pad vir die jaarlikse Paasfeesvieringe. Die minister van Vervoer, Sindisiwe Chikunga, het intussen haar innige meegevoel betuig met die families wat deur die tragiese ongeluk geraak is. Die LUR vir Vervoer en Gemeenskapsveiligheid se woordvoerder, Vongani Chauke:
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie verwerp bewerings dat hy Arise South Africa van die nasionale stembrief verwyder het. Partylede het gister na die hoofkantoor van die OVK in Pretoria opgeruk om hulle ontevredenheid te toon oor hulle uitsluiting uit die stembrief. Die voorsitter van die kommissie, Mosotho Moepya, het op ‘n nuuskonferensie tegniese struikelblokke met voorlopige lyste uitgelig, en skryf sommige partye se uitsluiting toe aan nie-voldoening. Moepya het die kommissie se toewyding aan deursigtigheid en behoorlike prosesse bevestig:
# Gauteng se Departement van Gesondheid het maatreëls ingestel om voortdurende gesondheidsorgdienste te verseker oor die Paasvakansie. Reisigers word aangemoedig om waaksaam te bly en nie onder die invloed van alkohol te bestuur nie. Staatshospitale en gesondheidsentrums sal oop bly, met genoeg personeel en bronne. Die provinsie se Nood- Mediese Dienste is op ‘n hoë gereedheidsgrondslag met ‘ n vloot van een-duisend-358 noodvoertuie wat ontplooi is. Motalatale Modiba van die departement vra ook waaksaamheid teen cholera en malaria, veral vir reisigers na endemiese gebiede:
# Die Britse versekeringsmark Lloyd’s of London glo Dinsdag se dodelike brugineenstorting in Baltimore in Amerika kan lei tot ‘n multi-miljard-rand versekeringsverlies. Twee mense is dood en vier word nog vermis nadat ‘n houerskip onder die vlag van Singapoer met ‘n pilaar van die Francis Scott Key-brug gebots het. Lloyd’s sê die rommel van die brug versper skeepsbane in die Patapsco-rivier en het die onbepaalde sluiting genoodsaak van een van die besigste hawens aan die VSA se Ooskus. Dit kan lei tot reuseversekeringseise.
# En ten slotte rugby: Die Bulle is vanaand die eerste Suid-Afrikaanse span in aksie in die Verenigde Rugbykampioenskap oor die naweek wanneer hulle Leinster om 9.30 in Ierland pak. Môre verwelkom die Haaie die Skotse span Edinburgh in Durban, terwyl die Leeus in Wallis teen Ospreys speel. Dan ontvang die Stormers nog ‘n Ierse span, Ulster, in Kaapstad. Die Bulle is tans tweede op die punteleer agter Leinster. Die Stormers is vyfde, die Leeus in die agtste plek en die Haaie, 14de.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….