Nuus 08:00
BULLETIN 28 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie sal vandag sy besware oor die kandidatelyste bekend maak
# Die adjunkpresident gaan die Nasionale Vergadering toespreek oor misdaad in die boubedryf en beleggings in die privaat sektor
# En Netanyahu sê Israel het geen ander keuse as om Rafah in te val nie
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie sal vandag die status van politieke partye en die onafhanklike kandidatelyste vir die algemene verkiesing bekend maak. Die afsnypunt vir besware was gister, en die kommissie sal dus sy besluite oor besware bekend maak, insluitend die geskiktheid van die uMkhonto we Sizwe-party, wat deur oudpresident Jacob Zuma gesteun word. Die kommissie se voorsitter, Mosotho Moepya, sê die OVK sal die volgende stappe uiteensit voor die finale lyste vrygestel word:
# Adjunkpresident Paul Mashatile spreek vandag die Parlement toe oor die regering se planne om misdaad in die boubedryf te bekamp. Die fokus is op groter privaat sektor-beleggings en die bevordering van werkskepping te midde van armoede, ongelykheid en werkloosheidsuitdagings. Hy sal ook vrae beantwoord oor MIV en Vigs-ingrypings en diensleweringsversnellings tydens die Nasionale Vergadering se virtuele sitting. As die leier van regeringsake sal Mashatile ook lede van die Parlement inlig oor kabinetsministers se nakoming van hulle grondwetlike verantwoordelikhede.
# Die GOOD Party in die Wes-Kaap sê die Stad Kaapstad gaan die voorsiening van gratis elektrisiteit na duisende behoeftiges afsny en dis skokkend en kommerwekkend. Die stad se aanpassingsbegroting is gister voorgelê en deur die DA-meerderheid aanvaar. Volgens die begroting word die waarde van eiendomme wat kwalifiseer vir gratis dienste verlaag van minder as 500-duisend-rand na eiendomme van minder as 400-duisend-rand. Die GOOD Party sê dit sal gesinne op die Kaapse Vlakte raak en ook diegene in plakkerskampe wat diensbare elektrisiteitsmeters in hulle woonplekke het.
# Israel se eerste minister Benjamin Netanyahu sê hulle het geen ander keuse as militêre optrede in Rafah nie. Hy het gister met Amerikaanse kongreslede vergader. Israel het onder internasionale kritiek deurgeloop voor sy beplande optrede in die suidelike Gaza stad waar meer as ‘n miljoen mense tans skuil. Netanyahu sê hulle sal binne enkele weke ʼn oorwinning in Gaza behaal en Hamas se senior leierskap in die gebied vastrek:
# Tennis: Die heersende Australiese Ope-kampioen, Jannik Sinner, is deur na sy derde Miami Ope-halfeindronde. Die Italianer het Tomas Machac van die Tsjeggiese Republiek met 6-4 en 6-2 verslaan om sy vierde halfeindronde van die jaar en 20ste wedstryd-sege van die seisoen te haal. In die vroueafdeling het die Rus, Ekaterina Alexandrova, die Amerikaner Jessica Pegula met 3-6, 6-4 en 6-4 geklop om die halfeindronde te bereik. Sy sal kragte meet met haar landgenoot, Danielle Collins, wat Caroline Garcia van Frankryk met 6-3 en 6-2 verslaan het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-91-sent teen die dollar, 20-rand-47-sent teen die euro en 23-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-282-dollar-6-sent. Die prys van goud is twee-duisend-195-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….