Nuus 08:00
BULLETIN 27 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê niemand kan iets steel wat aan die ANC behoort nie
# Die EFF ondersteun die DA se mosie van wantroue teen Mapisa-Nqakula
# En, die regter snoer Trump voor sy omkoopgeld-verhoor
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mabalula, sê niemand mag iets steel wat aan die regerende party behoort nie en dink hulle kan daarmee wegkom nie. Die saak oor die uMkhonto weSizwe-party se beweerde oortreding van die ANC se ontbinde para-militêre vleuel, Umkhonto we Sizwe, word vandag aangehoor. Mbalula sê dit is duidelik in openbare belang dat enige kieser-verwarring wat deur die ongeoorloofde gebruik van die ANC se intellektuele eiendom veroorsaak word, voor die 29 Mei-verkiesing opgeklaar word:
# Die EFF sê hy ondersteun die DA se mosie van wantroue teen die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula. Sy word beskuldig dat sy omkoopgeld van meer as twee-miljoen-rand ontvang het tydens haar termyn as minister van Verdediging. Die Nasionale Vergadering se adjunkspeaker, Lechesa Tsenoli, het die DA se versoek vir die mosie voorwaardelik goedgekeur. Die EFF sê Mapisa-Nqakula moet vervang word as speaker om die Parlement se integriteit te behou en haar aanspreeklik te hou.
# Tshwane se burgemeester Cilliers Brink sê die metro volg ‘n benadering van geen verdraagsaamheid teenoor wetteloosheid en veral dronkbestuur. Hy het die metro se Paasfees-padveiligheidveldtog in samewerking met die polisie gister by die N1 Carousel-tolhek bekend gestel. Die Padverkeersbestuurskorporasie sê 252 mense is verlede jaar tydens die Paastyd op die land se paaie dood. Brink sê padsterftes tydens Paastyd kan voorkom word:
# ʼn New Yorkse regter het oudpresident Donald Trump verbied om in aanloop tot sy komende saak oor vermeende omkoopgeld verklarings te maak oor moontlike getuies, aanklaers, hofpersoneel en jurie-lede. Hy mag ook nie ander aansê of voorsê om openbare verklarings te maak oor mense wat by die saak betrokke is nie. Trump word aangekla dat hy sakerekords vervals het wat verband hou met ʼn betaling aan die filmster Stormy Daniels in die dae voor die 2016-verkiesing. Die hofsaak begin op die 15de van volgende maand.
# Tennis: Die topgekeurde Carlos Alcaraz is vir die derde agtereenvolgende jaar deur na die Miami Ope-kwarteindronde. Die Spanjaard het Lorenzo Musetti van Italië met 6-3 en 6-3 geklop. Die verdedigende kampioen van Rusland, Daniil Medvedev, het die Duitser, Dominik Koepfer, met 7-6 en 6-0 verslaan terwyl die tweede gekeurde Italianer Jannik Sinner ook deur is ná ʼn oorwinning in skoon stelle. In die vroueafdeling het die driemalige kampioen, Victoria Azarenka, die Rus, Yulia Putintseva, met 7-6, 1-6 en 6-3 geklop om die halfeindronde te haal. Die Belarus sê dit was ʼn taai wedstryd:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-98-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-498-dollar-79-sent. Die prys van goud is twee-duisend-178-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….