Nuus 08:00
BULLETIN 9 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party open ‘n saak van crimen injuria teen Helen Zille oor ‘n vurige debat
# Die Polisie beloof om op te tree teen geweld en die vernietiging van eiendom
# En Donald Trump is onder 208 individue en 79 organisasies wat meeding vir die Nobelprys vir Vrede
# Die MK-party het ‘n saak van crimen injuria teen die DA se burgemeesterskandidaat vir Johannesburg, Helen Zille, gelê na ʼn beweerde godslasterlike en vulgêre uitbarsting tydens ʼn politieke debat in Augustus. Verteenwoordigers van MK, ActionSA en die Patriotic Alliance het ook deelgeneem toe Zille na bewering godslasterlike taal teen Ayanda Allie van ActionSA gebruik het. Moja Love het blykbaar besluit om dit nie uit te saai nie omdat hulle nie paneellede se ondertekende vrystellingsvorms kon kry nie. MK en ActionSA vra die televisie-kanaal om die debat uit te saai.
# Die waarnemende nasionale polisiekommissaris, Puleng Dimpane, sê die polisie sal nie wetteloosheid duld nie. Dit volg ná gister se gewelddadige betogings teen onwettige buitelanders in Soweto en Durban, waartydens 24 voertuie aan die brand gesteek en winkels geplunder is. Dimpane sê diegene wat verantwoordelik was, sal geïdentifiseer, ondersoek en aangekeer word waar voldoende bewyse beskikbaar is. Sy waarsku daar sal sonder vrees of guns opgetree word teen enigiemand wat die wet oortree:
# Die Gautengse wetgewer se portefeuljekomitee oor e-Regering en Navorsing-en-Ontwikkeling, asook die portefeuljekomitee oor Gemeenskapsveiligheid, vra ‘n onafhanklike ondersoek na ‘n beweerde sekerheidsbreuk wat die provinsiale e-paniek-knoppie-platform raak. Inwoners se persoonlike inligting, insluitend name, liggings en misdaadverslae, is moontlik blootgestel. Die komitees is besorg omdat die Inligtingsreguleerder eers twee weke ná die voorval in kennis gestel is, en wil besonderhede hê oor diegene wat daardeur geraak is, asook die stappe wat gedoen word om hulle te beskerm.
Nuus uit die buiteland:
# Ontleders beskou nie die Amerikaanse president, Donald Trump, as ʼn ernstige kandidaat vir vanjaar se Nobelprys vir Vrede nie, wat vanoggend deur die Noorweegse Nobel Instituut aangekondig word. Hy is volgens berigte deur leiers van Israel, Kambodja en Pakistan benoem. Onder die 208 individue en 79 organisasies wat as kandidate geregistreer is, is die Oekraïnse president, Volodimir Zelensky, pous Franciskus en die Sweedse aktivis Greta Thunberg. Hierdie name is genoem al word die amptelike benoemingslys vir 50 jaar lank streng vertroulik gehou.
# Sokker: Mamelodi Sundowns se afrigter, Miguel Cardoso, sê sy span besef wat op die spel is wanneer hulle môre teen Orlando Pirates speel in die MTN8-eindstryd op die Moses Mabhida-stadion in Durban. Hy mik na nog ‘n trofee nadat hy Sundowns tot oorwinnings gelei het in die Premierliga, die CAF-Kampioeneliga en die Afrika-Asië-Stille Osaan-beker. Cardoso sê die span moet gefokus bly, ondanks ‘n veeleisende wedstrydprogram en fiksheidskommer, en wys daarop dat Pirates ‘n uitstekende span is:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 18-rand-55-sent teen die euro en 21-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-164-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-174-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 106-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….