Nuus 08:00
BULLETIN 26 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Oudpresident Zuma se planne om geheime stemming te skrap, word gekritiseer
# Cosatu is vol vertroue die Parlement sal die tweepot-pensioenstelsel sonder versuim aanvaar
# En die Weerdiens waarsku oor hewige donderstorms in dele van die Noord- en Wes-Kaap
# Die politieke ontleder, professor Dirk Kotze, sê oudpresident Jacob Zuma se planne om die Grondwet te wysig om ‘n oop stemstelsel toe te laat, bedreig demokrasie. Zuma sê hy gaan die Grondwet en kieswette verander as sy uMkhonto we Sizwe-party die verkiesing op 29 Mei wen. Dit sal ook nie meer ʼn misdaad wees indien ouers lyfstraf toepas nie. Kotze sê Zuma se opmerkings kom neer op konserwatiewe populisme en kan hom stemme kos.
# Cosatu sê berigte dat die Parlement die aanvaarding van die tweepot-pensioenwetgewing vertraag, is verkeerd. Die tweepot-aftreestelsel sal lede van pensioenfondse toelaat om aanvanklik tot 30-duidend-rand van hul aftreefonds-kapitaal te onttrek met toegang tot een derde van toekomstige bydraes elke jaar. Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks, sê hulle vertrou die Parlement sal die Wysigingswetsontwerp op Inkomstewette en die Wysigingswetsontwerp op Pensioenfondse wat voorsiening maak vir die tweepot-pensioenhervormings voor die verkiesing bekragtig:
# Oudpresident Donald Trump van Amerika se strafregtelike saak oor vermeende omkoopgeld aan die filmster Stormy Daniels om stil te bly, begin op die 15de van volgende maand in New York. Hy word aangekla dat hy sakerekords vervals het wat verband hou met betalings aan Daniels in die dae voor die 2016-presidentsverkiesing. Trump pleit onskuldig. Die verhoor sal die eerste in die geskiedenis wees teen ʼn oudpresident van Amerika. Trump beskryf die vervolging as ʼn heksejag:
# Sokker: Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging hou vol die Bafana Bafana-afrigter Hugo Broos gaan nêrens heen nie. Dit ten spyte van mediaberigte in Tunisië dat Broos op die punt staan om ʼn aanbod as die Tunisiese sokkerspan se afrigter te aanvaar. Volgens die berigte gaan Broos, wat volgens sy kontrak verplig is om by Bafana te bly tot ná die 2026 FIFA-Wêreldbeker, vandag ná die wedstryd teen Algerië bedank. Broos het Bafana na hulle beste vertoning in die Afrikabeker in 24 jaar gelei toe hulle verlede maand die bronsmedalje opgeraap het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-87-sent teen die dollar, 20-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-407-dollar-75-sent. Die prys van goud is twee-duisend-170-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 86-dollar-10-sent per vat.
# En ter afsluiting het die Suid-Afrikaanse Weerdiens ʼn geel vlak 2-waarskuwing uitgereik vir swaar donderstorms vandag wat tot plaaslike oorstromings kan lei in die sentrale dele van die Noord-Kaap en noordoostelike dele van die Wes-Kaap. In die Noord-Kaap word gedeeltelik bewolkte, winderige en warm tot baie warm weer verwag terwyl verspreide reën en donderbuie ook kan voorkom. Die weervoorspeller, Stacy Colborne, sê in die Wes-Kaap kan enkele buie en donderbuie oor die oostelike dele voorkom, maar verspreide buie kan in die verre oostelike gebiede verwag word:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….