Nuus 08:00
BULLETIN 25 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Gesondheid sê noemenswaardige vordering is gemaak in die stryd teen TB
# Eskom word beveel om inligting oor sy bestaande steenkool- en dieselkontrakte aan AfriForum te verskaf
# En vier mans word aangekla in verband met die konsertsaal-terreuraanval in Moskou
# Die minister van Gesondheid, Joe Phaahla, sê hoewel Suid-Afrika steeds onder die lande met ‘n baie hoë tuberkulose-syfer is, was daar beduidende vordering in die land se stryd teen die siekte. Die minister het gister Wêreld-TB-dag in Gauteng herdenk. ‘n Bestendige afname is opgemerk in die aantal mense in die land wat jaarliks met TB gediagnoseer word sedert 2007, toe die syfer 644-duisend was, teenoor net 280-duisend in 2022. Phaahla sê die departement se TB Strategiese Plan is ten volle in lyn met die Nasionale Strategiese Plan:
# Eskom het tot die vyfde van volgende maand om inligting oor sy bestaande steenkool- en dieselkontrakte aan AfriForum te verskaf. Dit volg op ‘n uitspraak deur die Gautengse Hooggeregshof in Pretoria rakende die burgerregte-organisasie se aansoek onder die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting. Louis Boshoff van AfriForum sê hulle vermoed die inligting wat in die kontrakte vervat is, kan moontlik onreëlmatighede en korrupsie by die kragvoorsiener blootlê. Hy sê Eskom, een van die land se grootste en belangrikste ondernemings in staatsbesit, het ’n wetlike verpligting om deursigtig en verantwoordelik te funksioneer.
# Die Stad Ekurhuleni se munisipale komitee oor Openbare Rekeninge hou van hierdie week af openbare vergaderings oor die ouditverslag wat die Ouditeur-generaal onlangs vrygestel het. Die metro het vir 2022/2023 ‘n ongekwalifiseerde ouditmening met materiële bevindings ontvang. Die stad se woordvoerder, Zweli Dlamini, sê die Ouditeur-generaal se bevindings oor Ekurhuleni se ongemagtigde, onregmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes sal onder andere bespreek word:
# Rusland het vier mans vasgetrek wat vermoedelik verantwoordelik is vir Vrydag se aanval op die Crocus City-konsertsaal in Moskou waarin 137 mense dood en 100 beseer is. Hulle word van ʼn terreurdaad aangekla. Sewe ander mense is in Rusland gearresteer omdat hulle vermoedelik betrokke was by die aanval waarvoor die Islamitiese Staat verantwoordelikheid aanvaar het. Die vier bly in aanhouding tot 22 Mei wanneer ʼn voorverhoor plaasvind. Dis die dodelikste aanval deur enige groep in Rusland sedert 2004.
# Krieket: Die Gujarat Titans het ʼn naelskraapse oorwinning van ses lopies oor die Mumbai Indians behaal in hul eerste Indiese Premierliga-kragmeting in Ahmedabad. Die Titans het in hulle 20 boulbeurte 168 vir ses op die telbord geplaas met Jasprit Bumrah wat drie paaltjies platgetrek het. Mumbai het daarna laat in hul beurt ineengestort toe hulle sewe paaltjies vir slegs 55 lopies verloor het en op 162 vir nege uit was. In Jaipur het die Rajasthan Royals ʼn gemaklike oorwinning van 20 lopies in hulle aanvangswedstryd teen die Lucknow Super Giants behaal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-789-dollar-62-sent. Die prys van goud is twee-duisend-172-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….