Nuus 08:00
BULLETIN 23 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Gewapende mans vermoor meer as 60 mense in ‘n konsertaanval naby Moskou, en die Islamitiese Staat aanvaar aanspreeklikheid
# Die IVP is bereid om ‘n mosie te steun vir die speaker se verwydering
# En, die prinses van Wallis begin kankerbehandeling
# Aanvallers het gisteraand minstens 60 konsertgangers naby Moskou doodgeskiet. Meer as 145 is beseer in die aanval waarop militantes van die Islamitiese Staat aanspraak maak, en van wie ongeveer 60 ook in ‘n bedenklike toestand is. Reuters berig, dit was die dodelikste aanval in Rusland sedert die 2004 Beslan-skoolbeleg. Die aanvallers het gistraand losgebrand voor die optrede van die Sovjet-era rock-groep “Picnic” in die volgepakte Crocus-stadsaal wes van Moskou, met sitplek vir ses-duisend-200. In die Beslan-skoolbeleg het Islamitiese militantes meer as ‘n duisend mense, onder wie honderde skoolkinders, gyselaar geneem. Amerika se intelligensiediens bevestig die Islamitiese Staat se aanspraak en sê Rusland is twee weke gelede gewaarsku.
# Die Inkatha Vryheidsparty sê hy is bereid om ‘n Demokratiese Alliansie-mosie te steun om die speaker van die Parlement Nosiviwe Mapisa-Nqakula uit haar posisie te verwyder. Mapisa-Nqakula het besluit om opsy te staan te midde van ‘n korrupsie-klag van 2,3-miljoen-rand teen haar. Mapisa-Nqakula word daarvan beskuldig dat sy die omkoopgeld van kontrakteurs gewerf het terwyl sy minister van Verdediging was. Die IVP-hoofsweep, Narend Singh, sê die party steun Mapisa-Nqakula se besluit om op spesiale verlof te gaan tydens die ondersoek:
# Build One South Africa sê niemand moet verbaas wees oor Suid-Afrika se verdiepende waterkrisis nie, want die regering het geen politieke wil om dit aan te spreek nie. Die party beweer die regering het selfs planne aangekondig om water uit Zimbabwe te verkry. Die party voer aan, die krisis het groot dele van Gauteng reeds twee weke lank sonder water gelaat, en het inwoners se vermoë om basiese take te verrig, uiters negatief geraak. BOSA doen ‘n oproep op belanghebbendes en relevante organisasies om, wat hy noem, die lewensgevaarlike bedreiging vir die provinsie, baie dringend aan te spreek.
# Rugby: Die Cheetahs se SA Beker-veldtog het gisteraand in Bloemfontein met ‘n oorwinning afgeskop toe hulle die Boland Kavaliers met 38-7 geklop het. Die Cheetahs moes hard werk vir die wen en is fisies uitgedaag deur die span van Wellington. Die Cheetahs het ses drieë gedruk waarvan vier verdoel is deur die veteraan Ruan Pienaar, teenoor een verdoelde drie deur Boland.
# En, om mee af te sluit: Die prinses van Wallis, Catherine, het onthul dat sy vroeë stadium kankerbehandeling ondergaan nádat die siekte in toetse opgespoor is. Sy beskryf dit as ‘n groot skok na ‘n reeds uitdagende tydperk vir die gesin. Kensington-paleis het vertroue in haar volle herstel uitgespreek, maar geen verdere besonderhede bekendgemaak nie. Catherine doen ‘n beroep op ander met kanker om nie hoop te verloor nie, en vra dat haar gesin nou tyd, ruimte en privaatheid gegun word:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….