Nuus 08:00
BULLETIN 5 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Paul Mashatile herstel goed na ‘n geringe operasie
# Die ministerie van Hoër Onderwys belowe om aandag te gee aan vertraagde studentebetalings
# En sokker: Banyana Banyana is deur na die WAFCON-kwarteindronde
# President Cyril Ramaphosa sê adjunkpresident Paul Mashatile herstel goed en sal binnekort weer by die werk wees nadat hy ‘n klein operasie ondergaan het. Ramaphosa, wat Mashatile gister besoek het, sê sy gemoedstoestand is positief en hy is tevrede met sy herstel. Geen verdere besonderhede oor die prosedure is bekend nie. Die Presidensie bedank die publiek vir hul besorgdheid en sê Ramaphosa wens Mashatile ʼn spoedige en volle herstel toe.
# Die adjunkminister van Hoër Onderwys en Opleiding, Yusuf Cassim, sê studente moet die finansiële ondersteuning ontvang wat aan hulle belowe is om hulle te help om klaar te studeer. Cassim het tydens ‘n besoek aan die Vervoeronderwys- en Opleidingsowerheid in Randburg gesê klagtes oor vertragings in beursbetalings en vakleerlingskaptoelaes het tot die besoek aanleiding gegee. Hy sê die regering werk daaraan om die probleme te identifiseer en te verseker studente ontvang betyds die ondersteuning wat hulle nodig het:
# Die parlementêre Staande Komitee oor Openbare Rekeninge het in ʼn ondersoek na die Padongelukkefonds bevind die fonds se vorige bestuur het die raad doelbewus omseil toe hy omvattende sekuriteitsmaatreëls vir die voormalige uitvoerende hoof, Collins Letsoalo, goedgekeur het. Die fonds het tussen 2023 en 2025 minstens 27-miljoen-rand aan Letsoalo se veiligheid bestee. Dit was ten spyte van ʼn polisie-assessering wat geen bedreiging vir sy veiligheid kon vind nie. Die parlementêre regsadviseur, Fatima Ebrahim, sê Letsoalo se lyfwagte is van twee tot nege vermeerder:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê vordering word gemaak vir beter behandeling en die wêreld se eerste entstof vir die Bundibugyo-stam van Ebola. Drieduisend-748 gevalle, insluitend eenduisend-657 sterftes, is aangeteken in die grootste Ebola-uitbraak ooit in die Demokratiese Republiek die Kongo. Kliniese toetse met medisyne en behandelingsmoontlikhede word in die middelpunt van die uitbraak in die Ituri-provinsie uitgevoer. Die WGO sê toetse vir ‘n moontlike stamspesifieke entstof vir Bundibugyo het verlede maand in die Verenigde Koninkryk begin, met ‘n tweede wat hierdie week in Kanada begin het.
# Sokker: Banyana Banyana is deur na die Vroue-Afrikabeker se kwarteindronde nadat hulle Burkina Faso in Casablanca met 1-0 geklop het. Doelskopper Thembi Kgatlana het die belangrike wendoel in die 21ste minuut aangeteken. Suid-Afrika is nou tweede in Groep B ná Ivoorkus, wat Tanzanië in die ander wedstryd met 2-1 verslaan het. Desiree Ellis se span kom Saterdag in die kwarteindstryd in Rabat teen die gasvroue van Marokko te staan. Kgatlana, die speler van die wedstryd, sê sy is trots op die span se spel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 18-rand-86-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-36-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-131-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….