Nuus 08:00
BULLETIN 4 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Dit is vandag presies een maand voor die plaaslike verkiesing
# Infrastruktuur Suid-Afrika stel 110 projekte ter waarde van miljarde in die vooruitsig
# En motorsport: Max Verstappen spring voor weg in die Bahreinse Grand Prix
# Dit is vandag presies ‘n maand voor die plaaslike regeringsverkiesing op 4 November en politieke partye is steeds besig met landswye verkiesingsveldtogte. Die Verkiesingskommissie sê hy is gereed, met meer as 29-miljoen kiesers wat geregistreer is. Die voorsitter, Mosotho Moepya, sê die kiesersrol is die grootste nóg in ‘n plaaslike regeringsverkiesing. Hy sê dit is deels te danke aan ‘n verhoogde deelname van jong kiesers. Kiesers word aangemoedig om hul stemme te laat hoor:
Intussen verwerp die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Solly Malatsi, bewerings dat die versuim om bykomende befondsing vir die SABC se dekking van die verkiesing beskikbaar te stel, doelbewus was. Die SABC sê hy is gereed ondanks finansiële uitdagings. Die uitsaaier het die Nasionale Tesourie gevra vir 120-miljoen-rand vir sy verkiesingsdekking. Malatsi sê daar was geen besluit om enige politieke party te verhoed om billike en regverdige mediadekking te ontvang nie:
# Infrastruktuur Suid-Afrika sê 110 projekte ter waarde van ongeveer 395-duisend-miljard-rand wat in sy jongste oorsig van beplande konstruksieprojekte vervat is, sal na verwagting binne die volgende 12- tot 18-maande die verkrygings- en tenderfase bereik. Die projekte sluit in, die opgradering van die nasionale spoorwegnetwerk en spoordeurgange, die verkryging van die nuwe operateur wat die Gautreinstelsel bedryf, die Die Beitbrug-Musina-wateroordragskema, energie-infrastruktuur, hospitale en digitale projekte. Dit sal kontrakteurs, verskaffers en beleggers ‘n duideliker beeld gee van projekte wat binnekort op die mark sal wees en hul help om vooruit te beplan.
# Die Tegnologie-innovasie-agentskap sal 14-miljoen-rand in ‘n program te belê wat ten doel het om die opsporing van veesiektes te versnel. Die befondsing sal die biotegnologiemaatskappy TokaBio ondersteun in sy werk om siektes soos bek-en-klouseer en voëlgriep op te spoor. TokaBio bedryf laboratoriums in Limpopo en KwaZulu-Natal en ondersteun siektemonitering in die volstruis- en veebedryf. Die agentskap sê vinniger en meer betroubare opsporing sal help om boere te beskerm, biosekerheid te versterk en Suid-Afrikaanse landbouprodukte se toegang tot internasionale markte ondersteun.
# Die hoof van Tennessee se Departement van Korrektiewe Dienste gaan dié maand bedank, ná die staat se mislukte poging om die veroordeelde moordenaar, Christa Pike, met ‘n dodelike inspuiting tereg te stel. Sy is in ‘n bedenklike toestand in die hospitaal. Sy het Woensdag haar bewussyn verloor na die inspuiting en is aan ‘n ventilator gekoppel. Die goewerneur het ‘n onafhanklike ondersoek by die gevangenis in Nashville gelas. Pike is in 1995 toe sy 18 was, aan moord met voorbedagte rade skuldig bevind vir haar rol in die marteling en moord op die 19-jarige Colleen Slemmer.
# En motorsport: Max Verstappen van Red Bull het sy eerste voorste wegspringplek van die 2026-seisoen in die Bahreinse Grand Prix ingepalm. Die wedren word vanjaar in Maleisië gehou weens geopolitieke spanning. Die Nederlander deel die voorste ry met Lewis Hamilton van Ferrari. Kimi Antonelli van Mercedes is derde, voor Charles Leclerc van Ferrari, gevolg deur Lando Norris en sy spanmaat Oscar Piastri van McLaren, en George Russell van Mercedes; met Isack Hadjar van Red Bull in die agtste plek ná hy met vyf plekke gestraf is. Die wedren is die 16de ronde van die 2026-kampioenskap.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….