Nuus 08:00
BULLETIN 1 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Raymond Zondo sê versuim om teen wangedrag op te tree, verswak openbare vertroue
# Die Openbare Beleggingskorporasie vergroot sy belange met ‘n reuse-20-persent
# En die Britse regering glo Iran het ‘n rol gespeel in die RAF Fairford-voorval
# Oudhoofregter Raymond Zondo sê Suid-Afrika sukkel steeds met ernstige institusionele swakhede ten spyte van sterk grondwetlike waarborge en omvattende kommissie-bevindings. Hy het deelgeneem aan ‘n paneelbespreking oor die bou van ʼn etiese staat by die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Staatsadministrasie en Bestuur se konferensie in Durban. Zondo, wat die ondersoek na staatskaping gelei het, sê die land moet wegbeweeg van ondersoeke na korrupsie, en eerder regstreekse wetlike en administratiewe gevolge afdwing teen individue wat skuldig bevind word aan onetiese gedrag:
# Suid-Afrika se staatsbeheerde batebestuurder, die Openbare Beleggingskorporasie, het ‘n massiewe toename van 20-persent in bates onder sy bestuur aangeteken. Die OBK het aangekondig sy portefeulje het in die afgelope boekjaar tot ‘n rekordhoogte van meer as 3,6-duisend-miljard-rand gestyg. Die batebestuurder skryf die geskiedkundige groei toe aan die florerende plaaslike aandelemarkte en positiewe beleggersvertroue onder die Regering van Nasionale Eenheid. Die uitvoerende hoof, Patrick Dlamini, sê die sterk prestasie is ook aangevuur deur die goeie vertoning van aandele wat op die Suid-Afrikaanse beurs genoteer is, ‘n herlewing in plaaslike finansiële markte, positiewe beleggersvertroue en politieke bestendigheid.
# Die gewese lid van die GOOD Party, Sarah Mabotsa, eis antwoorde nadat sy as raadslid en burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Ontwikkeling en Ruimtelike Beplanning in Tshwane ontslaan is. Die party het sy besluit vroeër vandeesweek aangekondig en haar beskuldig van konstitusiebreuk. GOOD se samewerkingsooreenkoms met RISE Mzansi beteken ook die partye het Mabotsa as hul burgemeesterskandidaat vir Tshwane voor die plaaslikeregeringverkiesing onttrek. Mabotsa sê haar ontslag het gevolg nadat sy kommer oor reëlings van die veldtog, bronne en ondersteuning uitgespreek het:
# Die Britse eerste minister, Andy Burnham, sê daar is ʼn sterk aanduiding dat Iran ʼn rol gespeel het in die naweek se vermeende terreurkomplot naby RAF Fairford. Vyf Britse mans tussen 23 en 25 jaar is vasgetrek weens moontlike plofstof- en terrorisme-oortredings, maar is weer vrygelaat. Die eerste minister se opmerkings volg nadat Amerika se minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, Maandag gesê het ʼn buitelandse “akteur” is beslis by die voorval by die lugmagbasis betrokke. Burnham sê die ingewikkelde ondersoek duur voort:
# Sokker: Bafana Bafana het Eritrea met 5-0 verpletter in die Afrikabeker-kwalifiseerwedstryd in Kaïro, Egipte. Hulle is met ses punte na twee wedstryde eerste in Groep D. Relebohile Mofokeng het in die eerste helfte twee doele behaal en die grondslag vir Suid-Afrika gelê. Yaya Sithole, Iqraam Rayners en plaasvervanger Luther Singh het in die tweede helfte doel aangeteken om die oorwinning te verseker. Pitso Mosimane se span kom Sondag by die Kaïro Internasionale Stadion in ʼn vriendskaplike wedstryd teen Egipte te staan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 18-rand-62-sent teen die euro en 21-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-388-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-164-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 101-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….