Nuus 08:00
BULLETIN 17 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Rand Water se toevoerstelsel is onder erge druk in Tshwane
# Dit sal jare neem om Gaza weer veilig te maak
# En, fietsry: Ryers word oor die agt dae-lange Cape Epic uitgedaag
# Rand Water doen ‘n beroep op Gauteng se metro’s Tshwane, Johannesburg en Ekurhuleni, om hulle waterverbruik, wat tans uiters hoog is, dringend te bestuur. ‘n Woordvoerder van Tshwane, Lindela Mashigo sê die waternutsmaatskappy se toevoerstelsel is onder erge druk, wat tot ‘n totale ineenstorting kan lei. Mashigo sê die stelsel is tans onder 30-persent en onmiddellike ingryping is nodig, wat ‘n dringende afsluiting van die watertoevoer na sekere opgaardamme in Tshwane noodsaak:
# Die Johannesburgse Hooggeregshof het die kultuur van eiegeregtigheid veroordeel en Joubert Park Property in die sakesentrum beveel om vir al sy munisipale dienste sedert 2015 te betaal. Die stad se woordvoerder, Nkosana Lekotjolo, sê die eienaars van die eiendom met 79 eenhede het nie minder nie as vyf hofaansoeke ingedien in ‘n desperate poging om te keer dat hulle afgesny word weens die nie-betaling van munisipale dienste:
# Die Verenigde Nasies se agentskap vir Palestyne waarsku dit sal jare neem om die Gaza-strook weer veilig te maak. Hy sê die Israelse aanvalle het byna 23-miljoen ton se rommel en wapens wat nie ontplof het nie, oral in die enklave agtergelaat. Dit sal vir lank nog ‘n gevaar inhou. Die VN se hulpkoördineringskantoor sê myn-aksievennote is nou besig met ‘n evaluering van die bedreiging van ontploffings en lig die inwoners van Gaza in oor die gevare.
# Fietsry: Vanjaar se Cape Epic het in Somerset Wes begin met deelnemers wat die uitmergelende 617-kilometer wedren van agt dae oor bergagtige terrein aandurf. Fietsryers gaan ‘n totaal van 16-duisend-500 meter vanaf die Lourensford-wynlandgoed en terug, uitklim. Die wedren, wat as die Tour de France van Afrika bekend staan, moet deur albei lede van die twee-persoonspan voltooi word, met slegs 680 spanne wat elke jaar toegelaat word om deel te neem.
# En, om mee af te sluit: President Cyril Ramaphosa sê Koning Dinuzulu ka Cetshwayo het onderwys hoog geag – iets wat ‘n groot impak op die Zoeloe- koningshuis gehad het. Ramaphosa het by die 110de herdenkingsvieringe van Koning Dinuzulu in Nongoma, KwaZulu-Natal gepraat. Ramaphosa sê die koning was ook baie by die kunste betrokke. Hy was vroeër in sy lewe ‘n ywerige komponis van talle Amahubo esiZulu tradisionele liedjies:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….