Nuus 08:00
Bulletin Opskrifte
BULLETIN 4 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Ramokgopa sê Suid-Afrika is in ‘n beslissende dekade van sy energiemark-transformasie
# March and March beweer die betogings teen ongedokumenteerde buitelanders het positiewe gevolge gehad
# En die Politieke Moorde-taakspan arresteer vyf verdagtes in twee afsonderlike hoëprofielsake
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê Suid-Afrika is in ‘n bepalende dekade wat sy energiemark-hervorming betref, met geleenthede in opwekking en transmissie, asook vir beleggers om die argitektuur van Afrika se toekomstige kragstelsel te vorm. Die Geïntegreerde Hulpbronne-plan wat verlede jaar goedgekeur is, dui op 2,2-duisend-miljard-rand se belegbare energiegeleenthede wat tot 2039 die mark kan betree. Dit sluit ook ʼn transmissie-uitbreidingsprogram van 440-miljard-rand in. Ramokgopa sê die land se elektrisiteitsnetwerk kan ʼn katalisator wees vir energie-groei in die streek.
# March and March-stigter, Jacinta Ngobese-Zuma, sê die massabetogings op 30 Junie teen onwettige buitelanders het gelei tot minder misdaad, plek in skole vir Suid-Afrikaners en beter gesondheidsorg. Die Grensbestuursowerheid het tussen 7 Junie en 14 Julie meer as 72-duisend repatriasies na verskillende lande hanteer. Ngobese-Zuma sê baie kinders van onwettige immigrante het die land saam met hul ouers verlaat wat Suid-Afrikaanse kinders toegang gee tot basiese onderwys:
# Die Gautengse Taakspan vir Politieke Moorde het vyf verdagtes vasgetrek in verband met die moorde op die ANC-wyksraadslid vir wyk 10 in die Stad Tshwane, Thabang Masemola, en die EFF-lid Aaron Makola. Twee verdagtes, insluitend die vermeende sluipmoordenaar, is gearresteer vir Masemola se moord in Julie 2025 in Mamelodi-Oos. Die nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê na die ontdekking verlede maand van Makola se liggaam in Delmas, Mpumalanga, is drie verdagtes die naweek aangekeer en aangekla van moord, ontvoering en roof:
# Die president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, sê die uitdagings wat deur onwettige immigrasie veroorsaak word, vereis verenigde optrede en solidariteit. Tienduisende migrante uit Marokko het verlede week die grens na die Spaanse enklawe Ceuta oorgesteek. Volgens Spaanse owerhede is ongeveer 69-duisend-500 migrante weer terug in Marokko nadat hulle verlede Donderdag in die enklawe in Noord-Afrika aangekom het. Byna 100 mense is dood. Von der Leyen het die EU gevra om in sekere gebiede optrede te verdubbel, onder meer die voorkoming van onreëlmatige migrasie, beter eksterne grense en die toepassing van vroeë waarskuwingstelsels.
# Tennis: Die derde gekeurde Amerikaner, Taylor Fritz, het sy elfde ATP Toer-titel beklink toe hy die DC Ope in Washington gewen het. Hy het die Spanjaard, Rafael Jodar, verslaan om sy eerste titel sedert Junie 2025 te buit, en die eerste op ʼn harde baan sedert Februarie 2024. In die vroue-eindstryd het die 21-jarige Alexandra Eala die eerste Filippyn geword wat ʼn WTA-enkelspeltitel wen nadat sy met die topgekeurde Amerikaner, Jessica Pegula, afgereken het. Eala het nou van 28ste op die wêreldranglys gespring na die 20ste plek ‒ die beste van haar loopbaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-50-sent teen die dollar, 19-rand teen die euro en 22-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-629-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-58-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 88-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….