Nuus 08:00
BULLETIN 12 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Rekordgetal van 27,79-miljoen mense is geregistreer om in die verkiesing te stem
# Die Instituut vir Sekerheidstudies voorspel Suid-Afrika kan vir meer as twee jaar op die gryslys bly
# En, Joburg Water sê hy gaan voort om die watervloei in Randburg te verbeter
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie sê ‘n rekord 27,79-miljoen mense is geregistreer om op 29 Mei te stem. Dit is die grootste getal geregistreerde kiesers sedert die begin van demokrasie. Gauteng het die meeste, gevolg deur KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap. Meer as 55-persent persone op die kieserslys is vroue. Die OVK se uitvoerende hoof, Sy Mamabolo, sê die gesertifiseerde kieserslys word vandag beskikbaar gestel:
# Die Instituut vir Sekerheidstudies sê Suid-Afrika se gesukkel om van die gryslys gehaal te word, is deels toe te skryf aan die gebrek aan politieke wil om geldwassery en finansiering aan terroriste te bekamp. Die Finansiële Aksietaakmag het die land verlede Februarie op die gryslys geplaas omdat hy die meeste van die taakspan se vereistes om onwettige finansiële aktiwiteite te keer, nie nagekom het nie. Die instituut sê finansiering aan terroriste bly ʼn probleem in Suid-Afrika en voorspel die land gaan nog meer as twee jaar op die gryslys bly.
# Johannesburg Water sê lugverstoppings word uit die netwerk gespoel om watervloei in die Linden Een- en Blairgowrie-stelsels in Randburg te verbeter. Dit volg terwyl groot dele van Randburg steeds sonder water is. Johannesburg Water se woordvoerder, Nombuso Shabalala, sê verminderde watertoevoer na die Linden Een- en Blairgowrie-reservoirs word toegeskryf aan ʼn groter aanvraag weens die warm weerstoestande:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het die beduidende versterking van die tropiese storm Filipo, tussen Madagaskar en suidelike Afrika se vasteland bevestig. Kevin Rae van die Weerdiens waarsku teen die storm se moontlike gevare, insluitend stortreën, skadelike wind van meer as 100-kilometer per uur, en storms wat seevlakke met tot 50-sentimeter sal laat styg. Filipo sal na verwagting naby Inhassoro in Mosambiek plaasvind, met risiko’s van weerverwante skade deur die week:
# Statebondspele: Die Statebondspele-federasie sê hy voer tans gevorderde, vertroulike besprekings met moontlike gasheerlande vir die 2026 Spele. Die Australiese staat, Victoria, het in Julie verlede jaar as gevolg van stygende koste onttrek. Die Olimpiese Raad van Maleisië het bekend gemaak hy het ʼn amptelike uitnodiging gekry om die Statebondspele in 2026 aan te bied. Die federasie sê hy verwelkom die vernuwende voorstelle en voer positiewe gesprekke met moontlike gashere. Die Spele is nog net twee keer uitgestel: in 1942 en 1946, weens die Tweede Wêreldoorlog.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-69-sent teen die dollar, 20-rand-44-sent teen die euro en 23-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-674-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-177-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….