Nuus 08:00
BULLETIN 11 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SAKP vra vir doelgerigte regstellende stappe oor die uitgelekte ANC-kandidatelys
# RISE Mzansi wil ‘n openbare debat tussen die Gautengse premierskandidate hê
# En hierdie week is Wêreld Gloukoomweek
# Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party sê die uitlek van die ANC se kandidatelys vir die verkiesing lyk na deel van die breër reaksionêre agenda om die regerende party uit die kussings te lig. Die lys wat persoonlike inligting oor die ANC se nasionale en provinsiale kandidate bevat, het op sosiale media verskyn kort nadat die party dit verlede Vrydag by die Onafhanklike Verkiesingskommissie ingehandig het. Die SAKP sê doeltreffende regstelling moet plaasvind om die skadelike uitwerking daarvan op die komende verkiesing en elke persoon op die lys aan te spreek.
Die uMkhonto we Sizwe-party sê intussen, sy regspan gaan ‘n amptelike klag by die Onafhanklike Verkiesingskommissie indien nadat sy kandidatelys uitgelek het. Dié party en die ANC se kandidatelyste is die naweek op sosiale media gedeel. Oudpresident Jacob Zuma is kandidaat nommer een op die MK-lys, gevolg deur Jabulani Khumalo, wat die party geregistreer het. uMkhonto we Sizwe sê hy beskou die uitlek as onaanvaarbaar, onprofessioneel en ʼn skending van die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting.
# RISE Mzansi Gauteng se premierskandidaat, Vuyiswa Ramokgopa, doen ‘n beroep op die provinsiale kandidate van die DA, EFF en ActionSA om aan ‘n regstreekse openbare debat deel te neem. Sy sê dit is waar partye hul verkiesingsbeloftes en -prioriteite op die tafel kan plaas vir inwoners om hulle voor die verkiesing daaroor uit te vra. RISE Mzansi se woordvoerder, Mabine Seabe, sê hoewel die partye uit verskillende politieke huise kom, met verskillende manifeste, is almal dit eens dat die ANC Gauteng nié ná die verkiesing kan lei nie:
# Gholf: Abraham Ancer van Mexiko het die eerste LIV-gholftoernooi in Hongkong in ʼn uitspeelronde gewen. Hy het die laaste ronde met ʼn voorsprong van vyf houe begin, maar ʼn twee-oor-72 het hom teruggeplaas op 13-onder saam met Cameron Smith van Australië en Paul Casey van Engeland. Ancer hom op die eerste uitspeelputjie reggeruk met ʼn briljante voëltjie om sy eerste LIV-sege te behaal. Die Mexikaan beskryf sy oorwinning as moeilik, maar spesiaal:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-78-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 24-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-615-dollar-38-sent. Die prys van goud is twee-duisend-178-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-57-sent per vat.
# En, om mee af te sluit: Die Suid-Afrikaanse Gloukoomvereniging sê pogings word aangewend om toegang tot oogsorgdienste te verbeter, veral in gemeenskappe met ongereelde mediese diens waar gloukoom hoër kan wees. Dié week is dit Wêreld Gloukoomweek. Gloukoom, ‘n groep oogtoestande wat die optiese senuwee beskadig wat noodsaaklik is vir goeie sig, is een van die hoofoorsake van on-omkeerbare blindheid in Afrika. Dit affekteer meer as ses-miljoen mense. Die vereniging se president, Marissa Willemse, sê dit is belangrik om bewustheid te verhoog oor gloukoom, wat dikwels ‘die stille dief van sig’ genoem word:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….