Nuus 08:00
BULLETIN 22 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VSA-ambassadeur sê Thabo Mbeki is die mees geskikte persoon om die diplomatieke dooiepunt te verbreek
# ‘n Senior polisieoffisier word vir beweerde seksuele oortredings gearresteer
# En adjunkminister Letsike sê dreigemente teen vroue hou gevolge in
# Amerika se ambassadeur in Suid-Afrika, Leo Brent Bozell, glo oudpresident Thabo Mbeki is weens sy goeie ervaring as staatsman en onderhandelaar die beste persoon om die diplomatieke dooiepunt tussen Amerika en Suid-Afrika te hanteer. Dit volg nadat Amerika nuwe visumbeperkings aangekondig het op Suid-Afrikaners wat by rassediskriminasie betrokke is. Bozell het aan Business Day gesê Mbeki verstaan die werking van internasionale diplomasie en ekonomiese betrokkenheid op die hoogste vlak. Hy sê wat die hantering van basiese ekonomiese raamwerke betref, is iemand nodig wat in albei lande gerespekteer word.
# ‘n Senior polisiebeampte met die rang van luitenant-generaal is gister in Sandton gearresteer op aanklagte wat met seksuele oortredings verband hou. Die nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê die 59-jarige beampte het na bewering ʼn 16-jarige meisie tussen Julie en Augustus 2026 gereed gemaak, en na bewering ʼn 18-jarige vrou in Mei vanjaar in ʼn hotel in Sandton verkrag. Mathe sê die waarnemende nasionale polisiekommissaris, Puleng Dimpane, het die vermeende gedrag sterk veroordeel, veral in die lig van die land se stryd teen geslagsgeweld en vrouemoord:
# Die adjunkminister in die Presidensie verantwoordelik vir Vroue, Jeug en Persone met Gestremdhede, Steve Letsike, sê verwerping, woede, dronkenskap, rykdom of sosiale status kan nooit die teistering of bedreiging van enige vrou regverdig nie. Die Zimbabwiese sakeman Lawrence Chamurwa Mudzinganyama is op kamera vasgevang terwyl hy ‘n groep vroue gedreig het wat sy toenadering by ‘n luukse restaurant in Sandton van die hand gewys het. Die departement se woordvoerder, Cassius Selala, sê die dreigemente van dodelike geweld wat tydens die voorval op video vasgelê is, kan nie as bloot ‘n ongelukkige woordewisseling afgemaak word nie:
# Die Europese Raad se president, António Costa, sê in ʼn wêreld waar verdeeldheid toeneem, is daar steeds ʼn sterk, gedeelde verbintenis tot samewerking tussen vastelande, streke en politieke tradisies. Hy was mede-aanbieder van die eerste beraad vir vennote in multilateralisme saam met Australië, Barbados, Brasilië, Kanada, Indië en Kenia by die 81ste Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies in New York. Costa sê die kern-doelwit is om die VN en ander multilaterale formate se werk te ondersteun, en gedeelde verbintenisse in gedeelde, konkrete optrede te omskep:
# Sokker: FIFA-president Gianni Infantino stel ʼn eksterne hersiening voor van die manier waarop die beheerliggaam groot besluite neem. Dit volg na sy mislukte plan om die FIFA Forward Enterprise te stig, waar aandele in die Wêreldbeker en ander kompetisies aan privaat beleggers verkoop sou word. Infantino het in ʼn brief aan al 211 FIFA-lidverenigings gesê hy is gereed vir hervorming. Hy vra voorstelle oor die rol van die president, asook praktiese maniere om deursigtigheid en aanspreeklikheid te versterk.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-24-sent teen die dollar, 18-rand-63-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-579-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-344-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 102-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….