Nuus 08:00
BULLETIN 7 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# COPE beskuldig die regering dat hy geslaggeweld-oorlewendes versaak
# Vyf verpleegsters van die Steve Biko Akademiese Hospitaal word geskors nadat ‘n pasiënt dood is
# En basketbal: Suid-Afrika is mede-gasheer van die vierde seisoen van die Afrika Basketbal-liga
# Die Congress of the People sê die strafregstelsel moet dringend hersien word om in ooreenstemming te kom met die grondwetlike waardes van aanspreeklikheid, sensitiwiteit en doeltreffendheid. Dit volg ná ‘n verkragtingslagoffer van Gqeberha se ope brief aan president Cyril Ramaphosa waarin sy sê sy kan nie langer ʼn slagoffer van die strafregtelike stelsel wees nie. Sy het die brief geskryf nadat haar eis teen die polisie weereens uitgestel is. COPE se woordvoerder, Erick Mohlapamaswi, sê Ramaphosa het nie daarin geslaag om geslagsgeweld uit te roei nie:
# Die parlementêre staande komitee oor openbare rekeninge en die Spesiale Ondersoekeenheid het ʼn memorandum van verstandhouding onderteken om die verhouding tussen hulle te versterk. Die memorandum sal tot groter samewerking lei wat ondersoeke en verslagdoening oor sake soos onregmatige, vrugtelose en verkwistende besteding van staatsfondse betref. Sake wat Skoor na die Spesiale Ondersoekeenheid verwys vir ondersoek of motivering vir ʼn proklamasie, sluit in die Eskom-intelligensieverslag en die Nasionale Vaardigheidsfonds.
# Vyf verpleegkundiges van die Steve Biko Akademiese Hospitaal is voorlopig geskors na bewerings van growwe nalatigheid. Dit hou verband met ʼn voorval verlede maand by die hospitaal se ongevalle-afdeling waarby ʼn 28-jarige man betrokke was en wat ’n lid van die publiek op video opgeneem het. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê die pasiënt is in die hospitaal dood:
# Die Rust-fliek se wapenhanteerder, Hannah Gutierrez Reed, is skuldig bevind aan onwillekeurige manslag wat tronkstraf van drie jaar kan beteken. Die rolprent-kamerapersoon, Halyna Hutchins, is in Oktober 2021 op die filmstel in Nieu-Mexiko dood nadat ʼn skerppunt-koeël uit ʼn vuurwapen wat die akteur Alec Baldwin vasgehou het, haar getref het. Gutierrez Reed, wat verantwoordelik was vir die veiligheid en berging van vuurwapens op die rolprentstel, is vrygespreek van ʼn aparte aanklag dat sy met bewyse gepeuter het. Baldwin staar ook ʼn aanklag van manslag in die gesig.
# Basketbal: Suid-Afrika is die mede-gasheer van die vierde seisoen van die Basketballiga Afrika, met wedstryde wat Saterdag in die SunBet-arena in Pretoria begin. Die president van die liga, Amadou Gallo Fall, het ‘n verlengde seisoen aangekondig wat oor vier maande strek, met wedstryde wat in Suid-Afrika, Egipte, Senegal en Rwanda gespeel word. Dit is die eerste seisoen van die liga wat in vier verskillende lande gespeel word met 12 klubspanne uit Afrika wat in 48 wedstryde meeding:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-83-sent teen die dollar, 20-rand-51-sent teen die euro en 23-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-303-dollar-58-sent. Die prys van goud is twee-duisend-149-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….