Nuus 08:00
BULLETIN 6 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Regering sê die ekonomie toon tekens van geleidelike herstel
# Saftu sê brandstofprysstygings het steeds die grootste uitwerking op die werkersklas
# En Biden en Trump seëvier beide in hul onderskeie voorverkiesings op Super Dinsdag
# Die regering sê die bruto binnelandse produk se syfers toon veerkragtigheid en geleidelike ekonomiese herstel te midde van voortslepende uitdagings. Suid-Afrika se ekonomie het in die vierde kwartaal verlede jaar met ‘n geringe 0,1-persent gegroei. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê hierdie groei is bemoedigend omdat dit meer is as die vlakke voor die pandemie en dit is ʼn teken van ʼn ekonomie wat herstel toon. Sy sê die regering bly verbind om ʼn omgewing te skep wat ekonomiese groei bevorder en beleggings lok.
# Die Suid-Afrikaanse vakbondfederasie, Saftu, sê hy is bekommerd dat die brandstofprysstygings ʼn las plaas op die werkersklas se lewenskoste. Die petrolprys styg met een-rand-21-sent per liter terwyl diesel en paraffien ook meer kos. Saftu se woordvoerder, Trevor Shaku, sê die Algemene Huishoudelike Opname toon twee-derdes van die land se werkers gebruik padvervoer wat beteken die styging raak mense wat openbare vervoer, saamrygeleenthede en privaat voertuie gebruik
# Die Vryheidsfront Plus in Gauteng het die LUR vir Finansies, Jacob Mamabolo, se provinsiale begroting as oninspirerend beskryf. Mamabolo het vir die 2024/2025-boekjaar ʼn begroting van 165,8-miljard-rand aan verskeie departemente toegesê met ʼn groeivooruitskatting van 171,5-miljard-rand in 2025/2026. ʼn Woordvoerder van die VF Plus, Anton Alberts, sê die begroting vermors weereens fondse op dwase beleidsinisiatiewe wat die provinsie net armer sal maak:
# Amerika se president Joe Biden het tot dusver op Super Dinsdag die Demokrate se benoemingsverkiesings in Iowa, Virginia, Vermont, Noord-Carolina, Tennessee, en Oklahoma gewen. Demokrate en Republikeine het in 15 state vir hul voorkeur-kandidaat vir die presidensiële verkiesing gestem. Oudpresident Donald Trump het tot dusver die Republikeinse benoemingsverkiesings in Noord-Carolina, Virginia, Tennessee en Oklahoma gewen. Biden is basies onbetwis in die Demokratiese benoemingstryd terwyl Trump die voorloper is om die Republikeinse kandidaat te word met sy goeie voorsprong bo Nikki Haley.
# Sokker: Bayern München het ‘n eersteronde-agterstand van een-nul teen Lazio omgekeer en deurgedring na die Kampioeneliga-kwarteindronde. Doele van Harry Kane, wat twee keer ingeskop het, en Thomas Muller het Bayern in die tweede ronde met drie-nul oor Lazio laat seëvier. Kane het tot dusver in alle kompetisies vir die Duitse span, 33 doele in 33 wedstryde aangeteken. Intussen het Kylian Mbappe twee keer doele ingeskop vir Paris St-Germain, wat Real Sociedad twee-een in die tweede ronde verslaan het om na die kwarteindronde deur te dring. Mbappe sê hulle is bly om die laaste agt te haal:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-96-sent teen die dollar, 20-rand-59-sent teen die euro en 24-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-966-dollar-24-sent. Die prys van goud is twee-duisend-125-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….