Nuus 08:00
BULLETIN 18 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Tau wil Suid-Afrika se handelsbeleid oor papierprodukte laat hersien
# Suid-Afrikaners word aangemoedig om vandag swart te dra
# En VN-kundiges bevind dat die VSA oorlogsmisdade in Iran gepleeg het
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, het die Internasionale Handelsadministrasie-kommissie versoek om Suid-Afrika handelsbeleid oor papierprodukte te hersien. Dit volg op versoeke van plaaslike vervaardigers vir hoër pryse vir internasionale papierprodukte aangesien hulle sukkel om mee te ding met goedkoper ingevoerde produkte, hoër elektrisiteit en vervoerkoste, en druk op winsgrense. Tau sê as hierdie uitdagings nie suksesvol aangespreek word nie, staan die ekonomie gevaar om belangrike industriële beleggings, werkgeleenthede en die ekonomiese bestendigheid van verskeie plattelandse gemeenskappe wat op hierdie sektor aangewese is, te verloor.
# Die Departement van Gesondheid sê Suid-Afrika het tussen 14 Augustus en 17 September een onbevestigde en 18 bevestigde a-pokke-gevalle gehad. Vyftien gevalle is in Kaapstad aangeteken, drie in Gauteng, en die onbevestigde een in KwaZulu-Natal. Die betrokke individue is tussen 23 en 50 jaar oud. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, waarsku mense om uit te kyk vir a-pokke-simptome:
# Survivors Unite moedig Suid-Afrikaners aan om vandag swart te dra ter herinnering aan die nege vroue wat reg oor Ekurhuleni vermoor is en alle vroue wat onder geweld ly. Die organisasie sê hierdie moorde is ‘n pynlike herinnering daaraan dat vroue in die land steeds onder die daaglikse werklikheid van geweld leef. Hy sê daar moet ‘n ernstige gesprek wees oor vroue se veiligheid, aanspreeklikheid en die omstandighede wat vroue in gevaar plaas. Survivors Unite sê vroue benodig regte beskerming, effektiewe polisiëring en ‘n regstelsel wat hulle kan vertrou.
# ‘n Paneel menseregte-kenners van die Verenigde Nasies sê hulle het redelike gronde gevind dat Amerika in twee aanvalle in Iran waarin minstens 178 burgerlikes dood is, oorlogsmisdade gepleeg het. ʼn Nuwe verslag deur die onafhanklike internasionale feite-sending in Iran het bevind die missielaanvalle in Februarie op ʼn laerskool in Minab en ʼn sportkompleks in Lamerd kan beskou word as aanvalle wat burgerlike sterftes of skade aan burgerlike infrastruktuur veroorsaak het. ʼn VN-woordvoerder, Stéphane Dujarric, sê die bevindings is kommerwekkend:
# Sokker: Bafana Bafana se hoofafrigter, Pitso Mosimane, het sy finale groep van 30 aangekondig vir dié maand se 2027 Afrikabeker-kwalifiseerwedstryde teen Guinee in Johannesburg en Eritrea in Egipte. Die groep het talle spelers van Mamelodi Sundowns en Orlando Pirates, asook verskeie spelers van buitelandse klubs in Europa en Amerika. Themba Zwane, Cassius Mailula, Luther Singh en Shandre Campbell is onder dié wat vir die Bafana-groep opgeroep is. Mosimane erken dit was moeilik om die groep saam te stel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-24-sent teen die dollar, 18-rand-65-sent teen die euro en 21-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-401-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-342-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 104-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….