Nuus 08:00
BULLETIN 5 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Nathi Nhleko bedank uit die ANC omdat die party onherkenbaar geword het
# Frankryk word die eerste land wat aborsieregte in sy Grondwet verskans
# En, rugby: Sewe nuwelinge is ingesluit vir die Bok-vroue se internasionale toer
# ‘n Gewese lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee en oudminister van Polisie, Nathi Nhleko, het uit die regerende party bedank. Dit volg nadat die sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, hom beskuldig het dat hy in die Parlement lieg, ter verdediging van oudpresident Jacob Zuma tydens die ondersoek na die Nkandla-skandaal. Nhleko sê in sy bedankingsbrief Mbalula se aantygings is ʼn teken van die bankrotskap, waansin en uitgediende metodes wat ongelukkig die verdorde vorm definieer wat die ANC aangeneem het. Hy sê die regerende party het verander in iets wat onherkenbaar is.
# Die Azanian People’s Organisation doen ‘n beroep op kiesers om waaksaam te wees en te leer onderskei in die aanloop tot die verkiesing. Die party kritiseer die gebrek aan denke-leierskap, morele waardes en ongebreidelde korrupsie, wat lei tot ‘n oninspirerende visie vir die toekoms. Azapo se woordvoerder, Jabu Rakwena, daag die narratief uit, dat daar geen toekoms buite die huidige ANC-regering is nie. Rakwena doen ‘n beroep op kiesers om verder te kyk en hul langtermyn-voorspoed in ag te neem, wanneer hulle op 29 Mei ‘n regering kies wat hul beste belange op die hart dra:
# Die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovering, Blade Nzimande, sê die land moenie die groterwordende kultuur van straffeloosheid verduur wat menselewens blatant minag nie. Hy het gister die familie van ‘n student van die Universiteit van Johannesburg besoek wat verlede Donderdag in kruisvuur in Braamfontein dood is. Die departement se woordvoerder, Veli Mbele, sê die minister gaan die minister van Polisie, Bheki Cele nader om saam die nodige maatreëls in te stel ten einde die veiligheid van studente te verseker:
# Frankryk het die eerste land in die wêreld geword wat aborsie ʼn grondwetlike reg maak. Uit 925 parlementslede het 780 die wysiging gesteun wat vroue die vryheid verseker om ʼn aborsie te kies. Twee-en-sewentig het daarteen gestem. President Emmanuel Macron beskryf die uitslag van die stemmery as Franse trots en sê dis ʼn nuwe vryheid wat in die grondwet gewaarborg word. Macron sal Vrydag op Internasionale Vrouedag ʼn seremonie bywoon om die grondwetlike wysiging te finaliseer.
# Rugby: Sewe nuwe spelers is by die Springbok-vrouespan van 32 spelers ingesluit wat later die maand vir ‘n toer van drie weke na die Verenigde Koninkryk en Spanje vertrek. Nolusindiso Booi is die kaptein, met Babalwa Latsha en Tayla Kinsley as onderkapteins. Die span speel op die 23ste van die maand teen Spanje in Vallalolid en teen Amerika in Londen op die 30ste. Die Springbok-vroue se afrigter, Louis Koen, sê die toer is uiters waardevolle voorbereiding vir die Rugby-Afrika-Vrouebeker in Madagaskar in Mei:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-4-sent teen die dollar, 20-rand-67-sent teen die euro en 24-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-75-dollar-53-sent. Die prys van goud is twee-duisend-113-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….