Nuus 08:00
BULLETIN 3 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie verwelkom die positiewe reaksie op die finale kieserregistrasienaweek
# Suid-Afrika berei voor vir ‘n nuwe volwasse TB-entstof
# En Span SA keer met 28 medaljes terug van die Statebondspele
# Die Verkiesingskommissie sê Suid-Afrikaners het positief gereageer tydens die laaste kieserregistrasie-naweek voor die munisipale verkiesing in November. Volgens ‘n voorlopige verslag het die meeste in KwaZulu-Natal geregistreer, gevolg deur die Oos-Kaap en Gauteng. Tydens die eerste registrasienaweek op 20 en 21 Junie is meer as drie-miljoen registrasies aangeteken. Die kommissie se uitvoerende hoof, Sy Mamabolo, sê die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake sal hopelik binnekort die verkiesingsdatum aankondig:
# Die Departement van Gesondheid het die vordering wat gemaak is met ‘n nuwe tuberkulose-entstof verwelkom en bevestig voorbereidende werk word gedoen om tydige toegang vir Suid-Afrikaners te verseker. Dit vorm deel van voortgesette pogings om die epidemie teen die jaar 2030 uit te skakel as openbare gesondheidsbedreiging. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê ‘n entstof wat TB by adolessente en volwassenes voorkom, sal ‘n deurbraak wees vir die beheer en uitwissing van TB, beide wêreldwyd en hier in Suid-Afrika:
# Die polisie in die Wes-Kaap het ‘n soektog begin na die moord Saterdagaand op vier mans in Nyanga, Kaapstad. Polisiewoordvoerder Andrè Traut sê die slagoffers het in ‘n Toyota Avanza op Ou Klipfonteinweg gestop om ‘n pap band te herstel. Hy sê terwyl hulle daarmee besig was, is hulle aangeval deur onbekende gewapende mans wat op hulle begin skiet het. Die slagoffers is op die toneel dood verklaar. Traut sê die motief vir die moorde kan taxi-verwant wees:
# Rusland en Oekraïne het die naweek aanvalle op mekaar verskerp en minstens 14 mense is dood. Amptenare sê minstens nege mense is in Oekraïnse aanvalle op Moskou dood, terwyl Russiese aanvalle minstens vyf lewens in Kiëf geëis het. Rusland het sy gebruik van langafstand-missiele wat moeilik is om te onderskep, uitgebrei. Oekraïne se president, Volodymyr Zelensky, het Westerse nasies weer gevra om sy land van lugafweerstelsels te voorsien om stede en noodsaaklik infrastruktuur te beskerm. Zelensky sê die tekort aan teen-ballistiese onderskeppers moedig Rusland aan om meer dodelike aanvalle uit te voer.
# Statebondspele: Span Suid-Afrika het 28 medaljes by die 23ste Statebondspele in Glasgow gewen: sewe goue, elf silwer- en tien bronsmedaljes. Die swemmers het 22 van die land se medaljes gebuit met Pieter Coetzé wat skoonskip gemaak het in die rugslag-items en ses rekords opgestel het. Chad le Clos het die mees bekroonde atleet in die Spele se geskiedenis geword. Hy het drie medaljes in Glasgow gewen, wat sy totaal op 21 medaljes by vyf Spele oor 16 jaar te staan bring. Australië met 171 het die meeste medaljes gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 22-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-968-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-63-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 87-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….