Nuus 08:00
BULLETIN 20 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê geslagsgeweld en vrouemoord het ‘n keerpunt in Suid-Afrika bereik
# Numsa eis Israelse eerste minister moet gearresteer word vir volksmoord en oorlogsmisdade
# En tennis, Novak Djokovic verbeter die rekord met sy sewende titel by ATP-jaareindtoernooi
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê geslagsgeweld en vrouemoord het ‘n keerpunt in Suid-Afrika bereik en sal slegs deur gesamentlike pogings tot ‘n einde gebring kan word. Hy het gister die amptelike bekendstelling van die Takuwani Ri-ime-aksieprogram by Ha-Masia buite Malamulele in Limpopo, gelei. Dit was die derde Nasionale Mansparlement wat by die plaaslike veeldoelige sentrum aangebied is. Mashatile sê hoewel wetgewing ‘n kritieke rol speel in die hantering van geweld teen vroue en meisies, is voetsoolvlak-ingrypings wat hierdie proses ondersteun, ewe belangrik.
# Die parlementêre staande komitee oor die ouditeur-generaal het ouditeur-generaal Tsakani Maluleke geluk gewens met die aanstelling as eksterne ouditeur by die Verenigde Nasies se organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur. Die termyn is vir ses jaar en duur van volgende jaar tot 2029. Die komitee sê Maluleke se leierskap het Suid-Afrika in die oudit- en finansiële wêreld uitgesonder as agtenswaardig. Hy sê hy prys haar en die span omdat hulle die land in die internasionale arena laat uitstaan in sake van finansiële integriteit en aanspreeklikheid.
# Agt mense is gearresteer omdat hulle gister volgens berigte gemeenskapslede gekeer en geïntimideer het by die kieserregistrasielokaal by die Masemola-stamkantoor in Sekhukhune-distrik in Limpopo. Hulle het ook agente van partye gedreig. ʼn Polisiewoordvoerder, Hlulani Mashaba, sê die verdagtes sal vandag in die Nebo-landdroshof verskyn:
# Die Nasionale Unie van Metaalwerkers van Suid-Afrika sê hy ondersteun oproepe van die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Naledi Pandor, dat Israel se eerste minister Benjamin Netanyahu van oorlogsmisdade aangekla moet word. Suid-Afrika het die Internasionale Strafhof gevra dat oorlogsmisdade in Gaza ondersoek word. Numsa se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê hulle is steeds geskok deur, soos hulle dit noem, Israel se barbaarse volksmoord op Palestyne in Gaza:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een Novak Djokovic het nog ‘n rekord laat spat met ʼn sewende titel by die ATP-jaareindtoernooi. Hy het die gashere se tuisgunsteling Jannik Sinner in Turyn, Italië, geklop. Die Serwiër wat in die groep-fase teen die Italianer verloor het, het binne een-uur en 43-minute met 6-3 en 6-3 wraak geneem. Hierdie oorwinning beteken die 36-jarige speler sluit sy jaar af met oorwinnings in drie van die vier Grand Slams en vir die eerste keer sedert 2016 ‘n totaal van sewe titels in een kalenderjaar. Djokovic sê dit was weereens spesiaal om hierdie toernooi te wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-27-sent teen die dollar, 19-rand-96-sent teen die euro en 22-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-109-dollar-72-sent. Die prys van goud is een-duisend-982-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….