Nuus 08:00
BULLETIN 14 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Suid-Afrika het sy diplomatieke en ekonomiese prioriteite by die BRICS-beraad bevorder
# Boris Johnson en senior Europese veiligheidsamptenare ontkom naelskraaps aan ‘n Russiese hommeltuigaanval
# En tennis: Alexander Zverev wen sy eerste VSA Ope-titel
# President Cyril Ramaphosa sê een van die uitstaande kenmerke van die 18de BRICS-beraad, was die verbintenis om die globale bestuur van die multilaterale stelsel te bevorder. Die leiers het tydens die afsluitingseremonie gister in Nieu-Delhi, Indië, die Nieu-Delhi-verklaring aanvaar, en daarmee die gees van wedersydse respek en begrip, soewereine gelykheid, solidariteit, demokrasie en samewerking herbevestig. Ramaphosa het aan die media gesê Suid-Afrika het die beraad gebruik om sy diplomatieke en ekonomiese prioriteite te bevorder, veral deur die uitbreiding van intra-BRICS-handel en -beleggings:
# Die ANC sê berigte dat eerwaarde Frank Chikane ‘n regsaak teen die party aanhangig gemaak het, is vals en nie op feite gebaseer nie. Volgens ʼn uitgelekte vertroulike verslag is 51 aanbevole burgemeesterskandidate, insluitend Chikane, se name nie in aanloop tot die plaaslikeregeringsverkiesing in November by die Verkiesingskommissie ingedien nie. Die ANC se nasionale uitvoerende komitee het Chikane as die party se Johannesburgse burgemeesterskandidaat aanbeveel. Die nasionale ANC-woordvoerder, Mahlengi Bhengu, sê pogings om onmin te saai tussen Chikane en die party is roekeloos en misleidend.
# Gauteng se Onderwys-LUR, Lebogang Maile, sê onafhanklike skole is onafhanklik wat eienaarskap en bestuur betref, maar is steeds onderworpe aan regeringsregulasies. Daar is tans een-duisend-83 onafhanklike skole in die provinsie wat operasioneel geregistreer is. Die departement het tussen 2024 en Augustus 2026 458 dissiplinêre en boelie-klagtes ontvang, 422 gevalle waar oordragsertifikate of rapporte weens wanbetaling teruggehou is, en 518 skorsings weens wanbetaling. Maile sê die groei, akademiese prestasie, befondsing, registrasie en aanspreeklikheid van onafhanklike skole is belangrik:
# Die voormalige Britse eerste minister, Boris Johnson, en senior nasionale Europese veiligheidsamptenare het ʼn Russiese hommeltuigaanval in Oekraïne naelskraaps vrygespring. Die hommeltuig het ʼn trein naby die grens tussen Oekraïne en Pole getref, kort nadat die trein waarop Johnson en ander amptenare gereis het daar verby is. Johnson veroordeel die aanval as lukraak en sinneloos. Oekraïne se minister van Buitelandse Sake, Andrii Sybiha, beskryf die aanval as Vladimir Putin se terreur wat nou regstreeks aan die Europese Unie en NAVO se deure klop.
# Tennis: Die topgekeurde Alexander Zverev het die plaaslike gunsteling, Ben Shelton, geklop en sy eerste Amerikaanse Ope-titel gebuit. Die Duitser het die agste gekeurde Amerikaner verslaan en sy tweede Grand Slam-titel opgeraap. Die 29-jarige speler is slegs die vierde man in die Ope Era se geskiedenis wat in dieselfde seisoen met sy eerste twee Grand Slam-titels spog, nadat hy in Junie ook op Roland Garros koning gekraai het. Zverev sê 2026 is sy suksesjaar ná jare se gesukkel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-18-sent teen die dollar, 18-rand-73-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-773-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-334-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 109-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….