Nuus 08:00
BULLETIN 1 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu stig verkiesingsoorlogkamers om die ANC voor die verkiesing te ondersteun
# Saftu verwerp die Veelpartyhandves se voorneme om beurtkrag te beëindig
# En, die Ekurhuleni-raad verval in chaos na ‘n onderonsie tussen die ANC en die EFF
# Die vakverbond Cosatu sê hy het sy verkiesingsoorlogkamers met geaffilieerde vakbonde gestig om sy mense te mobiliseer om in die komende verkiesing vir die ANC te stem. Die regerende party se ondersteuning gaan na verwagting die eerste keer sedert 1994 onder 50-persent wees. Cosatu het sowat 1,6-miljoen lede. Hy sê hulle is teleurgesteld oor die foute wat die regering gemaak het, maar waardeer die talle voordele wat werkers sedert 1994 en onder president Cyril Ramaphosa se leierskap bygekry het.
# Die Suid-Afrikaanse Federasie van Vakbonde, SAFTU, verwerp die Veelpartyhandves se voorneme om beurtkrag te beëindig en energiesekerheid te vestig. Die elf politieke partye wat deel is van die handves, het ‘n verenigde plan voorgestel om beurtkrag eens en vir altyd te beëindig, indien hulle die ANC na die verkiesing uit die kussings kan lig. Saftu se woordvoerder, Trevor Shaku, sê die handves is ʼn stokvel van ekonomiese liberale wat dink die sogenaamde vryemarkstelsel sal die samelewing se probleme oplos:
# Die Ekurhuleni-raadsvergadering moes gisteraand verdaag word nadat ʼn fisiese onderonsie tussen EFF- en ANC-raadslede uitgebreek het. Die vergadering is belê om ActionSA se mosie van wantroue in die Ekurhuleni-burgemeester, Sivuyile Ngodwana van die African Independent Congress, te debatteer. Hy word beskuldig dat hy die metro se inwoners in die steek gelaat het en die EFF toegelaat het om die metro se fondse te misbruik. Die ANC in Gauteng se sekretaris, TK Nciza, sê hy teleurgesteld met die EFF-raadslede se gedrag:
# Minstens 43 mense waaronder vroue en kinders is dood nadat ʼn brand in ʼn seweverdieping-gebou in Bangladesj se hoofstad, Dhaka, uitgebreek het. Sowat 40 is beseer en 75 is gered. Die Bailey Road-gebou huisves hoofsaaklik restaurante, asook talle klere- en selfoonwinkels. Die minister van Gesondheid, Samanta Lal Sen, sê die oorsaak van die brand word ondersoek. Brande in woonstelgeboue en fabrieke is algemeen in Bangladesj omdat veiligheidsmaatreëls nie behoorlik toegepas word nie.
# Motorsport: Die sewemalige wêreldkampioen, Lewis Hamilton, sê hy was verras nadat hy die beste tyd aangeteken het in die tweede oefenronde van die seisoen se eerste Grand Prix in Bahrein. Die Mercedes-renjaer was vinniger as sy spanmaat, George Russell, terwyl Fernando Alonso van Aston Martin derde was. Hamilton sê hy is versigtig optimisties:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-14-sent teen die dollar, 20-rand-71-sent teen die euro en 24-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-837-dollar-39-sent. Die prys van goud is twee-duisend-45-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….