Nuus 08:00
BULLETIN 13 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê handelsbande tussen Suid-Afrika en Indië is die sleutel tot Afrika-handel
# Die Justisie-komitee vra vir openbare insette oor die kandidate vir die Inligtingsreguleerder
# En rugby: Die Bokke beklink die Rugby’s Greatest Rivalry-reeks met 3-1
# President Cyril Ramaphosa sê Indië en Suid-Afrika moet belegging in vervoer, logistiek, hawens, digitale verbindings, slim-stede en nywerheidsdeurgange versterk om handel en ekonomiese integrasie op die Afrika-vasteland te bevorder. Ramaphosa het aan ‘n Sakeleiers-rondetafelgesprek tussen Indië en Suid-Afrika by die 18de BRICS-leiersberaad in Nieu-Delhi deelgeneem. Hy sê Suid-Afrika het 195 strategiese geïntegreerde projekte in sleutelbedrywe geïdentifiseer, met ‘n gesamentlike waarde van meer as 1,61-duisend-miljard-rand. Ramaphosa sê die projekte bied beduidende geleenthede vir belegging en samewerking tussen die twee lande:
# COSATU verwelkom die Wysigingswetsontwerp op Algemene Mynwette, wat die Departement van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling gepubliseer het as ‘n belangrike stap in die stryd teen onwettige mynbou. Onwettige mynbedrywighede deur swaar gewapende misdaadsindikate het ‘n nasionale krisis geword en eis die lewens van mynwerkers, veiligheidswagte, polisielede en weermaglede. COSATU se woordvoerder, Matthew Parks, sê dié bedrywighede bedreig wettige werksgeleenthede in die mynbedryf, is ‘n gevaar vir gemeenskappe en ontneem die ekonomie jaarliks van meer as 70-miljard-rand aan inkomste:
# Die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling het die name van kandidate vir vakante poste by die Inligtingsreguleerder op die Parlement se webwerf gepubliseer vir openbare kommentaar, voor 29 September. Ingevolge die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting moet lede van die reguleerder toepaslik gekwalifiseer wees en Suid-Afrikaanse burgers wees. Die komitee sê ten minste een van die aangestelde lede moet ervaring hê as ‘n praktiserende advokaat of prokureur, of as ‘n professor in die regte aan ‘n universiteit.
# Die Stad Tshwane het sy aanlyn platform vir sakelisensies en permitte bekend gestel. Dit bied ondernemings en informele handelaars ‘n enkele digitale kanaal om aansoek te doen vir sakelisensies en handelspermitte, dit te hernu en die vordering van hul aansoeke dop te hou. Dit vorm deel van Tshwane se ekonomiese-herlewingsplan. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Ontwikkeling en Ruimtelike Beplanning, Sarah Mabotsa, sê die stad verwag dit sal bydra tot korter omkeertye, beter rekordhouding en meer aanspreeklikheid in die verwerking van aansoeke:
# Suid-Afrika en Lesotho het hul samewerking in die stryd teen die verspreiding van onwettige vuurwapens versterk ná die beslaglegging en vernietiging van een-duisend-787 vuurwapens tydens misdaadbestrydingsoperasies in Lesotho. Die waarnemende nasionale polisiekommissaris, Puleng Dimpane, sê die Lesotho Berede Polisiediens het beslag gelê op die vuurwapens tydens verskeie operasies en doelgerigte misdaadbestrydingsveldtogte. Sy sê die gesamentlike pogings toon albei lande se verbintenis tot Agenda 2063, wat strewe na ‘n Afrika waar gemeenskappe veiliger is en onwettige vuurwapens nie langer misdaad en geweld aanvuur nie.
# En rugby: Die Springbokke het seker gemaak hulle wen die trofee vir die eerste Rugby’s Greatest Rivalry-reeks deur gister in die vierde en laaste wedstryd in Baltimore ‘n oortuigende oorwinning van 43-28 oor die All Blacks te behaal. Suid-Afrika het ses drieë teenoor Nieu-Seeland se vier gedruk, met Damian de Allende, Morné van den Berg, Malcolm Marx, Pieter-Steph du Toit, Kurt-Lee Arendse en Cameron Hanekom wat die doellyn oorgesteek het. Suid-Afrika het teen rustyd met 17-14 voorgeloop. Kaptein Siya Kolisi het ná die wedstryd kommentaar gelewer:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….