Nuus 08:00
BULLETIN 29 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê kinders word steeds in ontoereikende, onveilige plekke onderrig
# Die Amerikaanse Hooggeregshof stem in om Donald Trump se politieke vrywaringseis in sy verkiesingsaak aan te hoor
# En motorsport, Red Bull-spanhoof word onskuldig bevind aan onbehoorlike gedrag
# Die DA sê ná 30 jaar van demokrasie word Suid-Afrikaanse kinders steeds in onvoldoende en onveilige plekke onderrig. Dit volg nadat 18 kinders beseer is toe die Umthambeka Primary School in Thembisa, Gauteng, se plafon Dinsdag op hulle ingestort het. ‘n DA-woordvoerder, Baxolile Nodada, sê die Departement van Basiese Onderwys gaan nie sy teiken haal om teen 2030 agterstande met noodsaaklike infrastruktuur in te haal nie omdat hy nooit die 20-miljard-rand per jaar het wat daarvoor nodig is nie:
# Die Wetsontwerp op Dagga vir Privaat Doeleindes wag op president Cyril Ramaphosa se handtekening nadat die Nasionale Raad van Provinsies dit met ‘n oortuigende meerderheid goedgekeur het. Dit hanteer kwessies wat spruit uit die dekriminalisering van dagga ses jaar gelede. Die wetgewing wil duidelikheid gee oor die wettige gebruik, kweek en vervoer van die plant. Ramaphosa se moontlike bekragtiging kan aansienlike veranderings teweeg bring en duideliker definisies en regulasies instel vir ‘n bedryf wat sedert die Konstitusionele Hof se uitspraak in 2018 met teenstrydighede te doen het.
# Die GOOD Party in die Wes-Kaap het die verwydering van die Drakenstein-burgemeester, Conrad Poole, verwelkom nadat ʼn mosie van wantroue teen hom geslaag het. Die DA-burgemeester was volgens berigte betrokke by ʼn betaal-vir-werk-skandaal waar lede van sy uitvoerende komitee hom maandeliks gunsloon betaal het. ʼn Woordvoerder van die GOOD Party, Keagen Gertse, sê die mosie om Poole te verwyder was nodig omdat die DA-leierskap nie opgetree het nie:
# Die Amerikaanse Hooggeregshof het ingestem om oudpresident Donald Trump se saak oor vrywaring aan te hoor oor die omkering van die 2020-verkiesingsuitslag. Hy het die Hooggeregshof genader nadat ʼn paneel van drie regters in die Appèlhof van die Distrik van Columbia Rondgaande Hof sy eis van omvattende vrywaring verwerp het. Trump het beweer hy is gevrywaar van alle strafregtelike aanklagte vir dade wat volgens hom deel van sy pligte as president was. Die Hooggeregshof sal die saak die week van 22 April aanhoor.
# Motorsport: Red Bull se spanhoof, Christian Horner, is vrygespreek nadat bewerings van onbehoorlike gedrag teen hom gemaak is. Die 50-jarige Horner is ondersoek ná ʼn vroulike kollega bewerings gemaak het, wat hy ontken. Red Bull sê hy het vertroue dat die ondersoek regverdig, deeglik en onpartydig was. Hy sê die klaer mag appelleer. Die eerste Grand Prix van die seisoen vind die naweek in Bahrein plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-24-sent teen die dollar, 20-rand-85-sent teen die euro en 24-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-622-dollar-78-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-36-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-7-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….