Nuus 08:00
BULLETIN 28 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Modise ontken berigte dat sy bedank het om by die MK-party aan te sluit
# Die EFF sê Mandisa Maya moes lankal as hoofregter benoem gewees het
# En sokker, Banyana Banyana klop Tanzanië om deur te dring na die laaste Olimpiese kwalifiseringsronde
# Die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Thandi Modise, het berigte dat sy bedank het, ontken en beskryf dit as vals en belaglik. ‘n Artikel in Opera News Hub beweer Modise het haar pos in die Kabinet verlaat en uit die ANC bedank om by die pasgestigte uMkhonto we Sizwe-party van oudpresident Jacob Zuma aan te sluit. Modise sê sy beskou die berigte as barbaarse maniere om ʼn wig in te dryf, eenheid in die ANC te ondermyn en onstabiliteit in die regering te skep:
# Die EFF het dit verwelkom dat president Cyril Ramaphosa adjunkhoofregter Mandisa Maya as die land se volgende hoofregter benoem het en sê dit moes lankal gebeur het. Die amp van hoofregter word op 31 Augustus beskikbaar wanneer regter Raymond Zondo se termyn verstryk. Die EFF sê hy glo Maya moes die pos gekry het nadat voormalige hoofregter Mogoeng Mogoeng se termyn verstryk het. Hy sê die vertraging en Zondo se aanstelling laat vrae ontstaan.
# Graan Suid-Afrika het ‘n waarskuwing uitgereik oor die beduidende ekonomiese uitdagings waarmee somergraanproduksie-streke te kampe het weens droogtetoestande. Die uitvoerende hoof, Tobias Doyer, sê uiterste hitte en droogte het gelei tot die oes se vinniger-as-verwagte agteruitgang. Uitdagings wat besproeiingsmielies as gevolg van beurtkrag en hitte ervaar, tesame met oormatige reën in wintergraanproduksiegebiede, het opbrengsverliese tot gevolg gehad. Doyer beklemtoon die behoefte aan ondersteuningstelsels om herstel aan te help.
# Amptenare van Israel, Hamas en Katar sê daar is steeds verskille wat opgelos moet word voor ʼn moontlike skietstilstand kan plaasvind. Dit volg nadat die Amerikaanse president Joe Biden gesê het ʼn skietstilstand tussen Israel en Hamas kan teen komende Maandag bereik word. Die sterftesyfer in Gaza is nou byna 30-duisend. Katar se woordvoerder vir Buitelandse Sake, Majed Al-Ansari, sê hulle hoop ʼn ooreenkoms word bereik voor die Moslems se heilige maand, Ramadan, oor twee weke begin:
Sokker: Banyana Banyana het Tanzanië op die Mbombela-stadion in Mpumalanga met een-nul geklop in die tweede been van die kwalifiseringswedstryde vir die Olimpiese Spele in Parys. Thembi Kgatlana se doel het verseker dat Suid-Afrika Tanzanië met ‘n gekombineerde telling met vier-nul verslaan nadat hulle die Tanzaniërs verlede Vrydag in die eerste been in Dar es Salaam met drie-nul afgeransel het. Afrika se heersende vrouekampioene kom in die laaste kwalifiseringsronde teen Nigerië te staan. Afrigter Desiree Ellis sê sy is oor die algemeen tevrede met hulle vertoning:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-11-sent teen die dollar, 20-rand-71-sent teen die euro en 24-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-920-dollar-17-sent. Die prys van goud is twee-duisend-31-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….