Nuus 08:00
BULLETIN 11 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê die ANC vra nie die OVK vir gunste nie
# AfriForum sê minister Majodina moet afgedank word omdat sy op ‘n inwoner gevloek het
# En vandag is die 25ste herdenking van die 9/11-aanval op die Wêreldhandelsentrum
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het beklemtoon dat hulle nie die Verkiesingskommissie gunste vra nie, maar hof toe gaan oor wettige feite. Die party het die Kieshof genader en daag die kommissie uit omdat sommige van sy kandidate nie voor die sperdatum op die kommissie se stelsel vasgelê is nie. Die party sê dis weens tegniese probleme met die stelsel, maar die kommissie ontken dit. Mbalula het ‘n Anton Lembede-gedenklesing gelewer waar hy herhaal het dat die ANC nie die sperdatum misgeloop het nie:
# AfriForum vra president Cyril Ramaphosa om die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, af te dank. Die minister het onder skoot gekom na ʼn video waarop sy tydens ʼn gemeenskapsvergadering in Loerie in die Oos-Kaapse Kouga-munisipaliteit op ʼn gestremde inwoner vloek. Lambert de Klerk van AfriForum sê Majodina se gedrag druis in teen ministers se etiese kode. Hy sê parlementslede wat hierdie gedrag veroordeel, moet ʼn klag indien by die Openbare Beskermer in terme van die Wet op die Etiek van Lede van die Uitvoerende Gesag:
# Die Stad Johannesburg het inwoners aangeraai om gereeld hul waterverbruik te monitor en lekkasies op te spoor om onverwagte hoë rekeninge te vermy. Die stad sê inwoners moet lekkasies buite hul eiendomme onmiddellik aanmeld, terwyl lekkasies binne eiendomme gewoonlik die verantwoordelikheid van die eienaar is. Kliënte word ook aangemoedig om hul meterlesings na te gaan en buitengewone toenames in waterverbruik aan te meld.
# Dit is vandag die 25ste herdenking van 11 September 2001 toe Al Kaïda-vlieëniers met twee gekaapte vliegtuie in die twee toringgeboue van die Wêreldhandelsentrum in New York vas gevlieg het. Twee-duisend-977 slagoffers is daardie dag dood. Die Amerikaanse leër het Al Kaïda-leier, Osama Bin Laden, in 2011 in Pakistan doodgemaak. Die vermeende baasbrein agter 9/11, Khalid Sheikh Mohammed, is steeds in die tronk nadat hy in 2003 aangekeer is. Families sal vandag by die Nasionale 11 September Gedenkteken- en Museum-plein in Laer-Manhattan byeenkom vir ʼn herdenkingseremonie.
# Gholf: Joaquin Niemann van Chili loop voor in die Ierse Ope in Doonberg na ‘n openingsronde van vyf-onder 65 in nat en winderige omstandighede. Hy het ‘n voorsprong van twee houe oor ‘n groep van vyf spelers, insluitend Shane Lowry van Ierland en Shaun Norris van Suid-Afrika. Negentien spelers het nie hul eerste ronde voltooi nie, omdat die spel weens donkerte opgeskort is. Die verdedigende kampioen, Rory McIlroy, wat sy openingsronde met vier houe agter die voorloper voltooi het, sê hy is tevrede met waar hy op die telbord staan:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-21-sent teen die dollar, 18-rand-81-sent teen die euro en 21-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-740-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-320-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 109-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….