Nuus 08:00
BULLETIN 9 September 8 vm
Goeiemôre/Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ipsos sê kiesersopkoms sal ‘n belangrike rol in die verkiesing speel
# Fikile Mbalula sê hy is regverdig verkies
# En die VSA val vyf Iranse tenkskepe aan
# Ipsos sê kiesersopkoms sal in talle belangrike metro’s ‘n groot rol speel om die uitslag van die munisipale verkiesing te bepaal. Volgens ʼn nuwe Ipsos-meningspeiling se aanduidings is die DA en ANC se wedloop in Johannesburg, Ekurhuleni, Nelson Mandela-baai en Buffalo City baie mededingend. Ipsos sê die MK-party het tans ʼn voorsprong van 55-persent in eThekwini. Hy sê ondersteuning vir die EFF wissel oor metro’s, maar is op 27-persent die hoogste in Buffalo City. Ipsos sê ActionSA se grootste ondersteuning is in Gauteng se metropolitaanse gebiede.
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, verwerp steeds Nkosazana Dlamini-Zuma se bewering teen hom, en hou vol hy is vry en regverdig deur geheime stemming verkies by die party se 2022 Nasrec-konferensie. Mbalula het met regsoptrede teen Dlamini-Zuma begin en eis ʼn verskoning vir die bewering dat hy afgevaardigdes by die konferensie betaal het om hom as sekretaris-generaal te verkies. Dlamini-Zuma het ʼn teenverklaring ingedien. Mbalula glo die hof sal die regte besluit neem en sê hy het niks verkeerd gedoen nie:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het ʼn pleit- en vonnis-ooreenkoms aangegaan met die Britse voortvlugtige en driedubbele moordbeskuldigde, Ndodana Mkhanyisi Tshuma. Volgens die ooreenkoms pleit hy skuldig aan die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie, en oortreding van Suid-Afrikaanse immigrasiewette. Die Zimbabwies-gebore Britse burger het na bewering sy vrou en twee dogters in die Verenigde Koninkryk vermoor voor hy na Suid-Afrika gevlug het. Die NVG sê Tshuma se uitleweringsprosedure om in die Verenigde Koninkryk tereg te staan op aanklag van die drie moorde, vind môre plaas.
# Amerika se Sentrale Bevel sê sy leër het vyf Iranse tenkskepe vernietig nadat dié land se Islamitiese Rewolusionêre Wagkorps die afgelope twee dae twee keer probeer het om ʼn Amerikaanse oorlogskip met ballistiese missiele aan te val. Amerikaanse magte het vier olie-tenkskepe in die Golf van Oman en een naby Kharg-eiland in die Persiese Golf getref. Iran het uit weerwraak missiele afgevuur op ʼn Amerikaanse basis in Jordanië. Amerika se minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, waarsku nog Iranse olietenkskepe sal gesink word indien aanvalle op oorlogskepe voortgaan:
# Gholf: LIV Golf het aansoek gedoen vir bankrotskapbeskerming in die Verenigde State in ‘n poging om te herstruktureer nadat Saoedi-Arabië se Openbare Beleggingsfonds sy finansiële steun onttrek het. Die fonds het besluit om na die 2026-seisoen nie met befondsing voort te gaan nie, nadat hulle byna 80-miljard-rand oor vyf jaar bestee het. Die wegbreekliga skuld spelers minstens 720-miljoen-rand. LIV Golf se uitvoerende hoof, Scott O’Neil, sê hierdie proses sal die liga tyd gee om ‘n mylpaaltransaksie te vind en die volgende hoofstuk te begin, rondom ondersteuners en ‘n innoverende eienaarskapsmodel wat spelers eerste plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 21-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-593-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-375-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 101-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….