Nuus 08:00
BULLETIN 8 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Suid-Afrikaner en nog elf ander is deur rebelle in Mosambiek ontvoer
# Minister Tau wil Suid-Afrika as ‘n aantreklike beleggingsbestemming vestig
# Rugby: Die president van SA Rugby sê die Greatest Rivalry-reeks weerspieël die land se gees van Ubuntu
# ‘n Suid-Afrikaanse werktuigkundige is een van ongeveer elf mense wat verlede week deur ʼn groep insypelinge in Mosambiek ontvoer is tydens ʼn aanval op ʼn jag-lodge en die nabygeleë dorp, Marangira. Volgens berigte is twee ander werknemers van die jag-lodge saam met die Suid-Afrikaner ontvoer terwyl die res van die inwoners van Marangira is. Die aanval is vermoedelik uitgevoer deur soldate wat bande het met die Islamitiese Staat-groep, wat sedert 2017 in die buur-provinsie, Cabo Delgado, bedrywig is.
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê hy wil die AIM-kongres gebruik om Suid-Afrika as ‘n geloofwaardige, mededingende en aantreklike beleggingsbestemming te vestig. Die kongres, wat gister begin het, is ‘n vlagskipbeleggingsplatform van die AIM Wêreldstigting wat jaarliks in die Verenigde Arabiese Emirate gehou word. Die geleentheid sal globale ekonomiese uitdagings aanspreek en beleggingsgeleenthede ondersoek. Tau sê Suid-Afrika bied die internasionale beleggingsgemeenskap verskeie sterk moontlikhede, onder meer, gesofistikeerde finansiële en dienstesektore, gevestigde industriële vermoëns en uitgebreide infrastruktuur.
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag-unie doen ‘n beroep op ‘n onmiddellike ondersoek na berigte oor Suid-Afrikaanse Nasionale Weermaglede in Kuba. Hulle is na bewering gevra om vrywillige betalings van tot 15-duisend-rand uit hul toelaes te maak om behoeftige Kubaanse burgers te help. Pikkie Greeff van die SANWU vra vir ‘n ondersoek om vas te stel wie die betalings gemagtig het, hoe die geld gebruik is en of soldate onder druk was om by te dra:
# Johannesburg se speaker, Margaret Arnolds, sê die moord op ʼn skoolbus-bestuurder in Westbury is ʼn pynlike herinnering dat geweldsmisdaad die veiligheid en welstand van inwoners in gemeenskappe reg oor die metro bedreig. Volgens die polisie het die 53-jarige man gister pas die laaste kinders afgelaai toe ongeïdentifiseerde verdagtes uit ʼn blou VW Polo op hom losgebrand het. Hy is talle kere raakgeskiet en op die toneel dood verklaar. Arnolds sê die voorval moet daartoe lei dat geweld in gemeenskappe aangespreek word:
# Rugby: Die president van SA Rugby, Mark Alexander, het Suid-Afrikaanse ondersteuners geprys vir die atmosfeer tydens die eerste Rugby’s Greatest Rivalry-reeks, wat die land aan besoekers van regoor die wêreld bekend gestel het. Die Springbokke is 2-1 voor in die reeks teen die All Blacks met die laaste wedstryd Saterdag in Baltimore, in die VSA. Alexander sê die ekonomiese uitwerking van die reeks sal gemeenskappe regoor die land bevoordeel en lewensbestaan verbeter. Hy sê SA Rugby het aandagtig geluister na aanbevelings oor hoe om toekomstige reekse te verbeter.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand teen die dollar, 18-rand-59-sent teen die euro en 21-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-878-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-429-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 99-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….