Nuus 08:00
BULLETIN 22 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA sê die begrotingsrede was oninspirerend
# terwyl COPE sê, die begrotingsrede het nie belangrike beleidskwessies aangespreek nie
# En, die formele ondersoek na die dood van 21 jeugdiges by die Enyobeni-taverne moet nog begin
# ActionSA sê die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se begrotingsrede was oninspirerend en ‘n voortsetting van die verdraaide bestedingsprioriteite van die hartelose ANC. Opposisiepartye het veral kommer uitgespreek oor die verskuiwing van 150-miljard-rand van die Suid-Afrikaanse Resewebank se goud- en buitelandse valuta-gebeurlikheidsreserwerekening om die land se fiskale vooruitsigte te ondersteun. ActionSA se president, Herman Mashaba, sê die ANC het ná dekades lange wanbestuur en patetiese ekonomiese groei, nie meer keuses nie:
Intussen bestempel die Congress of the People Godongwana se begrotingsrede as ʼn groot teleurstelling. Die party sê hy het nie die belangrike beleidsake aangespreek wat die land in ʼn krisis gedompel het nie. Cope se waarnemende voorsitter, Pakes Dikgetsi, sê die voortgesette gebrek aan belegging in die uitbreiding van nuwe en noodsaaklike infrastruktuur, sal groei en volhoubaarheid in die toekoms belemmer. Hy sê die ANC het die einde van geloofwaardige beleidskeuses bereik ná 15 jaar se slegte regering, wanbestuur en korrupsie:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag sê ‘n formele ondersoek na die dood van 21 jongmense by die Enyobeni-taverne moet nog by die Mdantsane-streekhof in die Oos-Kaap begin. Dit volg nadat die Streekhof in Oos-Londen gister die eienaars van die taverne skuldig bevind het aan die verkoop of voorsiening van alkohol aan mense jonger as 18. Die hof het bepaal die eienaars het versuim om met omsigtigheid op te tree om te verhoed dat minderjarige kinders die kroeg besoek. Die twee word môre gevonnis.
# Die Verenigde Nasies se globale koördineringsforum, die Inter-agentskap Staande Komitee, vra ʼn onmiddellike skietstilstand in Gaza en dat Hamas alle gyselaars dadelik vrylaat. Hamas het op 7 Oktober verlede jaar die suide van Israel ingeval, sowat een-duisend-200 mense vermoor en 253 gyselaar geneem. Israel het gereageer met ʼn militêre veldtog in Gaza waarin 29-duisend-300 mense reeds dood is. Die VN-forum sê Israel moet sy regsverpligting onder internasionale humanitêre en menseregtewette nakom en kos en mediese voorraad voorsien.
# Sokker: Liverpool loop met vier punte voor op die Engelse Premierliga se punteleer. Die span het in die tweede helfte herstel en Luton op Anfield met vier-een verslaan. Luton het teen rustyd voorgeloop ná ‘n kopskoot deur Chiedozie Ogbene. In die tweede helfte het doele deur Virgil van Dijk, Cody Gakpo, Luiz Diaz en Harvey Elliott die Reds se lot verander en hulle ʼn sege besorg. Dit is Luton se derde agtereenvolgende nederlaag en hulle bly in die relegasie-sone. Liverpool-bestuurder, Jurgen Klopp, sê hy is tevrede met sy span se veggees:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-564-dollar-88-sent. Die prys van goud is twee-duisend-27-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….