Nuus 08:00
BULLETIN 21 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA verwelkom die bevestiging van die verkiesingsdatum
# Die EFF sê die komende verkiesing is ‘n geleentheid om die swaarkry onder die ANC te beëindig
# En sokker, die volgende Afrikabeker-toernooi sal in die middel van die jaar gespeel word
# Die DA sê die aankondiging van die verkiesingsdatum begin die aftel na ‘n geskiedkundige oomblik waar Suid-Afrika geleentheid kry om homself te red van 30 jaar se ANC-mislukking, -korrupsie en -staatskaping. President Cyril Ramaphosa het amptelik aangekondig dat die algemene verkiesing op 29 Mei sal plaasvind. Die DA-leier, John Steenhuisen, sê hierdie verkiesing is ʼn keerpunt vir die land en kom op ʼn tydstip waar die nasie dit die nodigste het:
Die EFF sê intussen in sy reaksie die komende algemene verkiesing is ʼn geleentheid vir Suid-Afrikaners om die ellende onder die ANC se onbevoegde, korrupte en verwronge leiding te beëindig. Die EFF sê al wat die mense onder ANC-bewind ken, is armoede, werkloosheid, grondloosheid, ekonomiese wanhoop en beurtkrag. Die party moedig Suid-Afrikaners aan om sy manifes te lees wat sê hy sal alle maatskaplik-ekonomiese probleme deur praktiese en haalbare oplossings beëindig.
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, het opdrag gegee dat die maksimum hulpbronne tydens spitstyd op Gautengse hoofweë en ander strategiese plekke ontplooi word. Dit volg na ʼn voorval gister op die M1-Noord naby die Crown-wisselaar in Johannesburg toe gewapende rowers motoriste tydens spitstyd besteel het. Die nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê ʼn soektog na die verdagtes is aan die gang:
# Die Amerikaanse Departement van Justisie sê ʼn gewese FBI-informant wat beskuldig word dat hy gelieg het oor president Joe Biden, sy seun Hunter en ʼn Oekraïnse energiemaatskappy, het kontak gehad met amptenare wat met Russiese intelligensie verbind word. Alexander Smirnov word aangekla dat hy in Junie 2020 vals bewerings teenoor die FBI gemaak het dat uitvoerende hoofde wat geassosieer word met die Oekraïnse energiemaatskappy, Burisma, die president en sy seun in 2015 en 2016 byna 95-miljoen-rand elk betaal het. Die departement sê in hofdokumente Smirnov se kontak met Russiese amptenare was uitgebreid en het onlangs plaasgevind.
# Sokker: Die volgende Afrikabeker-toernooi sal in die middel van die jaar gespeel word, en nie in Januarie soos die geval was met die laaste twee toernooie nie. Afrika se beheerliggaam, die C-A-F, het volgens berigte ‘n ooreenkoms met die gasheer, Marokko, bereik dat dit van Julie tot Augustus 2025 gespeel sal word. Die ooreenkoms het blykbaar ook die steun van die wêreldbeheerliggaam, FIFA, al bots die datums met dié van FIFA se Klub-Wêreldbekertoernooi in Noord-Amerika. Datums vir die Afrikabeker-kwalifiseerders is nog nie bekend nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-87-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 52-duisend-65-dollar-41-sent. Die prys van goud is twee-duisend-29-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus………………