Nuus 08:00
BULLETIN 2 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê ANC sal burgemeesters en raadslede herroep wat nie die mense na behore dien nie
# ‘n Bom wat deur vrou gedra is, eis drie lewens en beseer 21 naby ’n Moskou-restaurant
# En rugby: Die naweek lewer Curriebeker-oorwinnings vir die Leeus, Stormers en Griekwas
# Die president van die ANC, Cyril Ramaphosa sê die party sal burgemeesters en raadslede herroep, wat nie daarin slaag om dienste te lewer en mense goed te dien nie. Dit volg te midde van die land se voorbereiding vir die komende plaaslikeregeringsverkiesing in November. Ramaphosa het gepraat tydens ANC-kieserregistrasie en gemeenskapsmobilisering in die Madibeng Plaaslike Munisipaliteit, Noordwes. Die president het kieserregistrasie aangemoedig om die ANC se program te bevorder om beter gemeenskappe deur bekwame plaaslike regering te bou.
Die Verkiesingskommissie het intussen weereens ‘n beroep op stemgeregtigde kiesers gedoen om die res van vandag te gebruik om te registreer en te verseker hul besonderhede is korrek. Die uitvoerende hoof van die OVK, Sy Mamabolo, sê kiesers sal nie nog ‘n geleentheid vir kieserregistrasie by stemlokale kry voor die 2026-plaaslikeregeringsverkiesing nie:
# Eskom sê hy het Suid-Afrika se energiesekerheid verlede maand versterk deur rekordhoë prestasie by sy kragstasies en ‘n beduidende afname in onbeplande onderbrekings, ondanks die hoë winteraanvraag. Die kragvoorsiener het op 26 Julie ‘n daaglikse hoogtepunt van 82,4-persent bereik, die beste daaglikse prestasie sedert September 2017. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê onbeplande onderbrekings het tot hul laagste vlak in agt jaar verminder, onder die vyf-duisend megawatt-kerf:
# ‘n Tuisgemaakte bom wat deur ‘n vrou gedra is, het Saterdagaand die lewens van drie mense geëis en minstens 21 beseer in ‘n ontploffing naby ‘n luukse Italiaanse restaurant in sentrale Moskou. Rusland se Teen-terrorisme Komitee sê ‘n onbekende vrou het probeer om die restaurant binne te gaan, maar is deur ‘n sekuriteitswag verhinder. Die vrou, die sekuriteitswag en ‘n klant is in die gevolglike ontploffing dood. ‘n Plaaslike koerant berig die bom is moontlik van ‘n afstand geaktiveer en die vrou wat dit gedra het, het moontlik nie geweet het dat dit ‘n ploftoestel was nie.
# En ten slotte Curriebeker-nuus:
Die Leeus het Saterdagaand ‘n oortuigende vertoning gelewer en die Bulle 15-tal heeltemal oorheers vir ‘n 42-19-oorwinning in hul Curriebeker-wedstryd op die stadion van die Universiteit van Johannesburg. Die Bulle moes sonder 45 gekontrakteerde spelers klaarkom en het die afgelope week drie spelers weens beserings verloor. Die Leeus was teen rustyd 28-0 voor en het altesaam ses verdoelde drieë gedruk.
In Kaapstad het die Stormers 23 gistermiddag ‘n sterk vertoning in die laaste kwart van ‘n andersins naelbytwedstryd gelewer, om ‘n welverdiende oorwinning van 36-28 oor die Sharks 15 voor ‘n entoesiastiese skare te verseker.
Die naweek se Curriebeker-kragmetings het Vrydagaand afgeskop toe die Griekwas die Cheetahs hul eerste nederlaag in vanjaar se kompetisie toegedien het deur in Kimberley met 24-21 te wen in ‘n opwindende en vermaaklike wedstryd.
Die naweek-aksie sal vanmiddag om drie uur in Wellington afsluit wanneer die Boland Kavaliers en die Pumas mekaar takel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….