Nuus 07:00
BULLETIN 24 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshof gaan vandag uitspraak lewer in Ramaphosa se dringende aansoek
# Solidariteit sê die Reserwebank het goeie oordeel getoon deur die rentekoerse onveranderd te hou
# En die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers aanvaar ‘n resolusie wat Trump gelas om die troepe uit Iran te onttrek
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof lewer vandag uitspraak oor president Cyril Ramaphosa se dringende aansoek vir ’n interdik teen die parlementêre Ampsklagkomitee. Hy wil hê die komitee se werksaamhede moet gestaak word tot sy versoek om die Artikel 89-verslag tersyde te stel, afgehandel is. Volgens die verslag moet hy vrae oor die Phala Phala-skandaal beantwoord. Ramaphosa se prokureur, advokaat Wim Trengove, het verlede week aan die hof gesê die president se reputasie kan geskaad word en hy sal in die openbaar verneder word deur ‘n ondersoek na vals aanklagte.
# Die vakbond Solidariteit het die Suid-Afrikaanse Reserwebank se besluit verwelkom om die terugkoopkoers onveranderd op sewe-persent te hou. Volgens die vakbond is die onlangse styging in inflasie hoofsaaklik te wyte aan hoër brandstofpryse en nie monetêre beleid nie, wat beteken ‘n rentekoersverhoging sou ‘n geringe uitwerking gehad het. Theuns du Buisson van Solidariteit glo inflasie sal afneem wanneer brandstofpryse daal. Hy sê om die rentekoerse onveranderd te laat, sal verligting vir huishoudings en ondernemings bring.
# Die Madlanga-kommissie het beslis dat die omstrede Noordwes-sakeman, Suliman Carrim, se aansoek vir uitstel van sy verhoor, vandag in die openbaar aangehoor word. Hy het aanvanklik gevra dat die aansoek in camera aangehoor word en hom beroep op sy reg tot mediese privaatheid weens ʼn onbekende siekte. Die kommissie het gesê sy siekte, hospitaal en dokters mag nie geïdentifiseer word nie. Carrim het vroeër vanjaar in getuienis voor die kommissie erken dat hy sake gedoen het met die misdaad-beskuldigde Vusimuzi “Cat” Matlala en Brown Mogotsi.
# Die Build One South Africa-raad het die lidmaatskap van die party se lid in die Gautengse provinsiale wetgewer, Ayanda Allie, ná ʼn interne tugproses beëindig. Die raad se voorsitter, Stevens Mokgalapa, sê die kwessies wat tot hierdie stappe gelei het, word hanteer sedert BOSA in Julie verlede jaar die eerste keer aangedui het dat hy tugstappe gaan instel. Hy sê die party het oor ʼn lang tydperk herhaalde pogings aangewend deur ontmoetings, beraadslaging en bemiddeling om die saak op ʼn minlike manier te skik:
# Die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers het die Oorlogsmagte-resolusie aanvaar wat president Donald Trump beveel om die weermag aan die konflik met Iran te onttrek. Vier Republikeine het saam met die Demokrate ten gunste van die maatreël gestem, wat die stemme op 214 teenoor 208 gebring het. Die Senaat het ook ʼn poging aangewend om Trump se oorlogsmagte in Iran te beperk, maar dit was onsuksesvol. Die Senaat se minderheidsleier, Chuck Schumer, sê net Trump en sy volgelinge wil oorlog maak:
# Krieket: In volgende jaar se reeks om die As tussen Engeland en Australië sal toetse by Trent Bridge in Nottingham, Lord’s in Londen, Edgbaston in Birmingham, Southampton en The Oval in Londen gespeel word. Die toer begin op 18 Junie, met Southampton wat vir die heel eerste keer ‘n toets om die As aanbied wanneer die vierde ontmoeting op 21 Julie begin. Die twee lande se vrouespanne sal vanaf 24 Junie in ‘n eenmalige toets by Headingley speel, gevolg deur drie T20-wedstryde en drie eendagwedstryde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-80-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 22-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-31-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-43-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 93-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….