Nuus 07:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 10 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Adjunkpresident spreek vertroue uit in die polisie om misdaad te bekamp
# Die Europese Kommissie vra vir die behoud van die mense van Israel én Palestina
# En krieket: Nieu-Seeland verbeter sy halfeind-kanse met ‘n vyfpaaltjie-oorwinning oor Sri Lanka
# Adjunkpresident Mashatile het ‘n beroep gedoen vir openbare samewerking en gesamentlike verantwoordelikheid in die voortdurende stryd teen misdaad. Hy het tydens ondervraging in die Parlement vertroue uitgespreek in die Suid-Afrikaanse Polisiediens se vermoë om oor misdaad te kan seëvier. Mashatile het beklemtoon wetstoepassing stel tans onwettige mynbou, geslagsgeweld en die konstruksie-mafia voorop. Hy het ook die werwing van bykomende polisielede aangekondig om die mag te versterk en suksesvolle misdaadbekamping te verseker:
Speel klankgreep: ENG MashatileOnCrime
# Transnet waarsku sy onderpresterende spoorvrag-afdeling hou ‘n gevaar in vir die ekonomie. Die staatsbeheerde instelling het tydens ‘n inligtingsvergadering met die Parlement onthul hy kan nie bekostig om sy skuld van 130-miljard-rand te vereffen nie, en versoek finansiële bystand. Die raad het die dringendheid beklemtoon om bedryfs-prestasie om te swaai, wat die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se bekommernis weerspieël. Transnet se skuldlas, met jaarlikse rente-kostes van 13-miljard-rand, word as onvolhoubaar beskou. Die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, verbind hom tot die verbetering van prestasie en vra kostebesnoeiingsmaatreëls ná die onlangse vertrek van uitvoerende hoof Portia Derby en die uitvoerende hoof van die spoorvrag-afdeling, Siza Mzimela.
# Die Gautengse Onderwysdepartement het ‘n ondersoek by die Hope Skool vir Leerders met Spesiale Onderwysbehoeftes in Westcliff, Johannesburg, van stapel gestuur. Dit volg na ‘n reeks voorvalle rakende leerder-wandissipline en wanadministrasie. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê hulle is ongelukkig bewus van twee beweerde verkragtingsvoorvalle wat by die skool plaasgevind het. Hy sê die mees onlangse voorval het op die 26ste van verlede maand plaasgevind, waar ‘n graad 12-seun wat ‘n leerder is aan die skool is, na bewering ‘n graad vier-seun by die skool se koshuis verkrag het:
Speel klankgreep: ENG MabonaOnIncidents
# Die president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, sê Israeli’s en Palestyne het ‘n politieke perspektief nodig om die huidige spiraal van geweld te breek en hoop te hervestig. Sy het in Parys gepraat by die Internasionale Humanitêre Konferensie vir Gaza se burgerlike bevolking. Die Europese Unie het agt vlugte met meer as 370 ton medisyne, water en sanitêre items na die Rafah-kruising gestuur vir aflewering in Gaza. Von der Leyen sê die internasionale gemeenskap moet saamwerk om lewens te beskerm en die mensdom in Israel sowel as Palestina te bewaar:
Speel klankgreep: ENG LeyenOnConflict
# Krieket: Nieu-Seeland het sy kanse verbeter om vir die halfeindronde van die Wêreldbekertoernooi te kwalifiseer toe hy Sri Lanka in Bengaluru met vyf paaltjies geklop het. Sri Lanka is tot 171 beperk nadat Kusal Perera 51 bygedra en Trent Boult drie paaltjies geneem het. Devon Conway en Rachin Ravindra het toe ‘n stewige grondslag gelê met ‘n aanvangsvennootskap van 86 lopies en die Swartpette het die teiken in hulle 24ste boulbeurt gehaal. Nieu-Seeland, Pakistan en Afganistan spook sake uit om in die voorlaaste ronde aan te sluit by Suid-Afrika, Indië en Australië.
#Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 22-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 36-duisend-795-dollar-3-sent. Die prys van goud is een-duisend-958-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie XX-dollar-XX-sent per vat.
# En ten slotte, die voormalige Daily Show-gasheer Trevor Noah het sy nuwe Spotify-aanlynuitsending genaamd What Now? with Trevor Noah bekendgestel met Dwayne “The Rock” Johnson as sy eerste gas. Die wydlopende onderhoud met Johnson dek alles, van die akteur se moeilike jeug en lewenslange stryd met depressie, tot waar hy gekritiseer word vir die bekendstelling van sy fonds ná die Maui-brande. Noah het die idee verwerp dat die uitsending gereed is om net nog ‘n uitlaatklep te wees vir bekendes op die A-lys, en gesê hy sal alle verskillende soorte gaste verwelkom, sommige aansienlik meer bekend as ander.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….