Nuus 07:00
BULLETIN 2 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge vra die VSA om nie Suid-Afrikaners vir regeringsbeleid te straf nie
# ‘n Brits-Irannese burger is in verband met die RAF Fairford-voorval in hegtenis geneem
# En krieket: Suid-Afrika begin die Wêreldbeker teen Nieu-Seeland
# Die Instituut vir Rasseverhoudings vra Amerika om te onderskei tussen die Suid-Afrikaanse regering en gewone burgers as hy veranderings aan sy buitelandse beleid oorweeg. Die organisasie het sy jongste opname met die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, gedeel, wat toon baie Suid-Afrikaners deel nie die regering se standpunte rondom raswette en ander beleidskwessies nie. Makone Maja van die instituut sê Amerikaanse maatreëls wat op die regering gemik is, moenie gewone Suid-Afrikaners benadeel nie:
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, sê belegging in toerisme-infrastruktuur is noodsaaklik om seker te maak die sektor kan op die toenemende eise reageer. Volgens Statistiek Suid-Afrika het toerisme in 2024 953-duisend-981 mense regstreeks in diens gehad. Dit is 5,7-persent van die totale arbeidsmag, terwyl die bydrae tot die ekonomie 4,9-persent van die bruto binnelandse produk was. De Lille sê haar departement het ‘n eenheid vir die hantering van toerisme-infrastruktuur geskep om struikelblokke vir beleggers te verwyder en te help dat belangrike projekte uitgevoer word:
# Die Oos-Kaapse premier Oscar Mabuyane het toestemming ontvang om te appelleer teen ʼn Hooggeregshof-bevel in die lastersaak teen EFF-leier Julius Malema. Die kwessie spruit uit Malema se verklaring dat Mabuyane ʼn meestersgraad van die Universiteit van Fort Hare “gesteel” het. Die premier sê die verklaring impliseer bedrog, oneerlikheid en misdadige gedrag. Mabuyane se dringende hofaansoek om Malema te verbied om lasterlike uitsprake te maak, is in Junie verwerp. Mabuyane sê hy verwelkom dit dat die saak in die Appèlhof aangehoor gaan word.
# Die 14de Joburg Indaba sal leiers van meer as 15 groot mynmaatskappye, die regering, staatsondernemings en kundiges uit die bedryf bymekaar bring om uitdagings en geleenthede in die mynbedryf te bespreek. Die geleentheid vind op 7 en 8 Oktober in Johannesburg plaas. Besprekings sal handel oor geopolitieke risiko’s, die plaaslike regeringsverkiesing, mynbeleid, beleggersvertroue en logistieke hervorming. Sprekers sluit in die uitvoerende hoof van Anglo American, Duncan Wanblad, en die uitvoerende hoof van Transnet, Michelle Phillips. Die Minister van Minerale en Petroleum Hulpbronne, Gwede Mantashe, sal na verwagting die slotrede lewer.
# Die Britse teenterrorisme-polisie het ʼn Brits-Iranse burger in Westminster, Londen, in hegtenis geneem in verband met die voorval by RAF Fairford. Die 26-jarige man is aangekeer weens vermeende voorbereiding van “terrorisme-dade”. Die polisie het intussen ʼn tweede man, ʼn 26-jarige Britse burger, ondervra en twee eiendomme deursoek. Die polisie het vyf mans wat Sondag aangekeer is, op borgtog vrygelaat. ʼn Senior teenterrorisme-beampte, Vicki Evans, sê hulle oorweeg alle moontlikhede ‒ insluitend betrokkenheid uit die buiteland. Iran ontken dat hy betrokke was by die vermeende komplot by die lugmagbasis.
# Krieket: Die mede-gasheerland, Suid-Afrika, is in die groepfase van die 2027 Mans-Wêreldbeker in Groep B saam met Engeland, Bangladesj, Sri Lanka, Nieu-Seeland en ʼn kwalifiseerder. Die verdedigende kampioene, Australië, is in Groep A saam met Indië, Pakistan, Afghanistan, mede-gasheerland Zimbabwe en ʼn kwalifiseerder. Die Proteas begin hul veldtog op 9 Oktober teen Nieu-Seeland op Nuweland in Kaapstad. Die top-drie spanne in elke groep beweeg aan na die Super 7-fase met die beste vierde-plek-span in die twee groepe wat die sewende plek inneem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-71-sent teen die dollar, 18-rand-78-sent teen die euro en 22-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-910-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-151-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 106-dollar-44-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….