Nuus 07:00
BULLETIN 11 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa kritiseer die DA se versoek om buitelandse hulp met die monitering van die verkiesings
# ‘n Politieke ontleder sê minister Gordhan is nie uitsluitlik verantwoordelik vir die krisis by staatsondernemings nie
# En, die inwoners van Tshwane word gewaarsku oor die voortdurende hittegolf
# Die president van die ANC, Cyril Ramaphosa, beskuldig die DA dat hy probeer om Suid-Afrika se demokrasie aan die VSA uit te verkoop. Dit volg nadat die amptelike opposisie die VSA en verskeie ander lande, insluitend die Europese Unie, versoek het om te help om onafhanklike binnelandse waarnemers te verskaf in aanloop tot die 29 Mei-verkiesing. Ramaphosa sê die DA wil die land aan supermoondhede uitverkoop:
# Die politieke ontleder, Dale McKinley, sê die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, kan nie uitsluitlik die skuld kry vir die wanfunksionele toestand van sommige van die staatsondernemings nie. Die minister gaan ná die algemene verkiesing op 29 Mei uittree. Gordhan is deur sommige opposisiepartye daarvan beskuldig dat hy die ondernemings in ‘n slegter toestand gelaat het as wat hulle was tydens Jacob Zuma se presidentskap. McKinley sê die staatsondernemingskrisis is baie diep en struktureel, en dit gaan veel verder as ‘n individu, insluitend die huidige leierskap van die ANC.
# Die Regterlike Gedragskomitee se appèlkomitee het aanbeveel Gauteng se regterpresident Dunstan Mlambo moet voor die regterlike gedragstribunaal verskyn. Die doel is om ondersoek in te stel of hy vir die Parlement en minister van Justisie, Ronald Lamola, gelieg het in ‘n uitgerekte geskil met advokaat Anthony Brink van KwaZulu-Natal. Brink het agt klagtes teen Mlambo ingedien in sy amp as die destydse raadsvoorsitter van Legal Aid South Africa nadat Brink nie in ʼn senior posisie aangestel is by die maatskappy waar hy in 2009 op ʼn kortlys was nie. Die gedragskomitee sê die bewerings is ernstig.
# Die Amerikaanse weermag sê ʼn skip met die eerste toerusting om ʼn tydelike hawe in Gaza te bou om humanitêre hulp af te laai, is op pad na die Midde-Ooste. President Joe Biden het verlede week in sy Staatsrede aangekondig die weermag gaan begin om ʼn hawe te bou waar groot vragte noodsaaklike voedsel en mediese voorrade afgelaai kan word. Die hawe kan binne twee maande gebou en ten volle in gebruik wees. Die Verenigde Nasies waarsku hongersnood in die Gaza-strook is feitlik onvermydelik.
# Rugby: Frankryk het in die tweede helfte oorheers en ʼn begeesterde Wallis in die vierde ronde van die Sesnasies in Cardiff met 45-24 verslaan. Gael Fickou, Nolann Le Garrec, Georges-Henri Colombe, Romain Taofifenua en Maxime Lucu het die besoekers se drieë gedruk met Thomas Ramos wat 20 punte bygevoeg het om hulle bonuspunt-oorwinning te verseker. Frankryk skuif ná die sege op na die vierde plek op die punteleer terwyl Wallis heel onderaan bly. Warren Gatland se span het nog nie een oorwinning in die huidige kompetisie behaal nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-79-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 24-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-399-dollar-57-sent. Die prys van goud is twee-duisend-177-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-45-sent per vat.
# En ten slotte: Die Stad Tshwane se Nooddienste waarsku inwoners die huidige hittegolf sal tot môre voortduur. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel hoë temperature wat oor die volgende twee dae ‘n maksimum van 37 grade sal bereik. Die metro se woordvoerder, Lindela Mashigo, sê inwoners word versoek om bewus te wees van die nadelige gevolge van langdurige blootstelling aan uiterste warm weersomstandighede:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….