Nuus 07:00
BULLETIN 30 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa stel bykomende befondsing beskikbaar vir geslagsgeweld en vrouemoord
# Die EFF verwelkom die Hooggeregshof-besluit wat Malema toelaat om te appelleer
# En tennis: Sabalenka speel in haar eerste toernooi sedert sy haar eerste plek op die ranglys afgestaan het
# President Cyril Ramaphosa het die minister van Polisie, die nasionale polisiekommissaris en die betrokke forensiese owerhede opdrag gegee om binne 60 dae ‘n befondste plan in te dien om forensiese agterstande in geslagsgeweld- en vrouemoord-sake te verminder. Die president het gisteraand ʼn reeks maatreëls en voorskrifte aangekondig nadat vroue in en om Ekurhuleni, Gauteng, vermoor is. Ramaphosa sê die plan moet ook duidelike omkeer-standaarde vir voorkeursake stel:
# AfriForum sê die beweerde besteding van 182-miljoen-rand aan die bemarking van Nasionale Gesondheidsversekering moet ondersoek word. Die organisasie meen bewerings van onreëlmatighede in kontrakte en die beweerde aanwending van fondse wat vir ander gesondheidsprogramme bedoel was, wek kommer oor moontlike korrupsie en wanbestuur. Louis Boshoff van AfriForum sê geen wangedrag kan bevestig word voor die ondersoeke nie afgehandel is nie:
# Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Solly Malatsi, waarsku die Film- en Publikasieraad om sy oorsig en stryd teen aanlyn gevare te versterk. Dit volg terwyl Suid-Afrika vinnige tegnologiese verandering beleef. Die raad se afdwingingskomitee het vroeër die maand aangekondig hy het toegeslaan op nienakoming, en boetes van altesaam 16,1-miljoen-rand uitgereik. Malatsi sê die raad speel ʼn belangrike rol in die beskerming van kinders se digitale waardigheid, die bewusmaking van aanlyn veiligheid, en hy werk saam met wetstoepassingsagentskappe om kubermisdaad te bekamp.
# Die EFF verwelkom die Hooggeregshof in Makhanda in die Oos-Kaap se besluit om Julius Malema toestemming te gee om te appelleer teen sy skuldigbevinding in die vuurwapensaak. Hy is verlede jaar skuldig bevind aan oortreding van die Wet op Vuurwapenbeheer en in April tot vyfjaar-tronkstraf gevonnis. Malema is in 2018 verfilm waar hy ʼn geweer in die lug afvuur tydens die party se vyfde verjaarsdagviering in Mdantsane. Die EFF het herhaal dat die saak volgens hom nie oor vuurwapenbeheer gaan nie, maar ʼn polities gemotiveerde vervolging deur AfriForum is.
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê gesondheidswerkers wat die grootste Ebola-uitbreking ooit in die Demokratiese Republiek die Kongo bestry, sukkel met ernstige probleme om pasiënte te versorg. Met agt-duisend-67 bevestigde gevalle en drie-duisend-901 sterftes, is die sterftesyfer meer as 48-persent in 63 gesondheidsones in sewe van die DRK se 26 provinsies. Dokter Janet Diaz van die organisasie sê in sommige streke is daar ʼn geringe daling in oordragte, maar die aantal gevalle in hierdie uitbreking bly hoog:
# Tennis: Aryna Sabalenka van Belarus sê sy is uitgerus voor haar eerste toernooi sedert sy vroeër vandeesmaand die eerste plek op die wêreldranglys aan Elena Rybakina van Kazakstan moes afstaan. Dit was ná die Amerikaanse Ope, waar sy ook in die eindstryd teen Rybakina verloor het. Sabalenka was vir 99 weke nommer-een op die ranglys, maar die viermalige Grand Slam-kampioen sal die seisoen vir die eerste keer sedert 2022 sonder ‘n groot titel afsluit. Albei spelers neem van vandag af aan die Chinese Ope in Beijing deel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 18-rand-58-sent teen die euro en 21-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-408-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-172-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 100-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….