Nuus 07:00
BULLETIN 29 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Feroz Cachalia sê Interpol is steeds op soek na die Gupta-broers
# Die EFF vra ‘n gespesialiseerde nasionale taakspan teen massaskietvoorvalle
# En Iran se minister van Buitelandse Sake sê dit is óf konflik óf diplomasie
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê Interpol soek steeds na Rajesh en Atul Gupta, terwyl die regering voortgaan met pogings om die broers aan die land te laat lewer. Hulle is in Junie 2022 in die Verenigde Arabiese Emirate gearresteer. Suid-Afrika was in 2023 onsuksesvol in pogings om die broers uitgelewer te kry. Cachalia het in ‘n geskrewe antwoord aan die Parlement gesê die Interpol Nasionale Sentrale Buro wag op die afhandeling van die voorlopige versoek vir inhegtenisneming en die amptelike uitleweringsversoek wat deel is van groter internasionale geregtelike samewerking.
# Die EFF vra dat ʼn gespesialiseerde nasionale taakspan aangestel word om massaskietvoorvalle en vuurwapengeweld te ondersoek. Dit volg na die onlangse massaskietvoorvalle in Gauteng, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal, waarin meer as 40 mense dood is. Die EFF sê hierdie voorvalle weerspieël die dodelike verband tussen onwettige mynbedrywighede, georganiseerde misdaad en die toename in onwettige vuurwapens. Hy sê hy verwerp die grootliks reaktiewe polisiemodel wat op die toneel aankom om liggame te tel, eerder as om te keer dat misdadigers militêre-graad wapens bekom en georganiseerde misdaadnetwerke te ontbloot.
# Die premier van die Wes-Kaap, Alan Winde, sê ekonomiese groei en die skep van werksgeleenthede was die hooffokus van sy onlangse besoek aan die VSA. Hy het samesprekings met Amerikaanse regerings- en sakeleiers gevoer om bande op die gebied van handel, belegging en toerisme te versterk. Die premier het ook die provinsie se planne vir hernubare energie en groter energiesekerheid bevorder. Winde sê ten spyte van ‘n afname in uitvoere verlede jaar, bly die VSA ‘n sleutelmark vir uitvoere en toerisme:
# Iran se minister van Buitelandse Sake, Abbas Araghchi, sê sy land is gereed om gevegte teen Amerika te hervat, maar bly ook gewillig om te onderhandel. President Donald Trump het Teheran se voorstel die naweek verwerp dat die Straat van Hormoes binne sewe dae sal heropen indien sy voorwaardes aanvaar word en onderhandelings vir ʼn breër ooreenkoms voortgaan. Die voorstel eis ook dat Iran se bates wat gevries is, vrygestel word. Dit sal die land toelaat om weer olie uit te voer. Araghchi het aan NBC gesê hulle is gereed vir enige iets:
# Tennis: Die wêreld-nommer-twee, Alexander Zverev, en sesmalige kampioen, Novak Djokovic, meet dalk in die Chinese Ope kragte. Die Duitser het vroeër vandeesmaand sy tweede Grand Slam-titel by die Amerikaanse Ope gebuit en begin sy veldtog teen die Brit, Cameron Norrie. Djokovic het in 2015 laas aan die toernooi deelgeneem, en kom in die eerste ronde teen Nuno Borges van Portugal te staan. Die Kanadees, Auger-Aliassime, verwag ʼn moeilike openingswedstryd teen die Amerikaanse Ope se halfeind-deelnemer, Karen Khachanov van Rusland. Die 2023-finalis Daniil Medvedev van Rusland en die Tsjeg, Jakub Mensik, meet in die tweede kwarteindronde kragte.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-43-sent teen die dollar, 18-rand-67-sent teen die euro en 21-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-881-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-130-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 103-dollar-34-sent per vat.
# En ten slotte: Professor Sue Harrison, ‘n emeritus-professor van die Universiteit van Kaapstad, is verkies tot Internasionale Genoot van die Royal Academy of Engineering ter erkenning van haar bydrae tot ingenieursnavorsing, innovasie en kapasiteitsontwikkeling. Harrison, tans adjunk-visekanselier vir Navorsing en Innovasie aan die Universiteit van Queensland in Australië, was 30 jaar lank werksaam by die Universiteit van Kaapstad, waar sy ‘n toonaangewende navorsingsprogram in bio-proses-ingenieurswese gevestig het en toesig gehou het oor meer as 155 nagraadse studente. Sy is een van 75 ingenieurs en tegnologie-kundiges wat vanjaar tot die Akademie verkies is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….