Nuus 07:00
BULLETIN 8 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Arbeidersparty vra die Hooggeregshof om in te gryp oor die verlenging van die verkiesingspertyd
# Swede sluit ná ‘n wagperiode van 2 jaar amptelik by NAVO aan
# En krieket: Engeland sê hy gaan terugveg teen Indië
# Die pas gestigte Labour Party of South Africa, wat bande het met die vakbond AMCU, daag die Onafhanklike Verkiesingskommissie voor die hof oor wat hy beskou as omslagtige vereistes vir die indien van kandidaatlyste. Die party, wat aan die verkiesing van 29 Mei wil deelneem, vra ‘n verlenging van vandag se spertyd vir nuwe partye om te voldoen aan die OVK se nominasie-vereistes. Krister Janse van Rensburg van die party hou vol die proses vir die oplaai van meer as 60-duisend handtekeninge is onregverdig:
# Burgerlike samelewinggroepe, wat die SOS Support Public Broadcasting-koalisie insluit, is bekommerd oor die skielike afstel van die Wetsontwerp op die SABC in die parlement. Die koalisie, saam met Media Monitoring Africa en die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum, het vir die onttrekking van die wetsontwerp gevra. Die parlementêre portefeuljekomitee oor Kommunikasie en Digitale Tegnologie het die verhore op die nippertjie uitgestel, en sê daar moet eers regsadvies oor die lewensvatbaarheid van die wetsontwerp ingewin word. SOS is bekommerd oor die gebrek aan deursigtigheid en vra versigtige oorweging van die SABC se befondsingsmodel en redaksionele onafhanklikheid.
# Die Stad Ekurhuleni sê die taxi-staking wat Woensdagaand begin het, sal vandag voortduur nadat onderhandelings tussen die Gautengse regering en verskeie taxiverenigings misluk het. Pendelaars in Germiston, Katlehong, Tembisa en ander gebiede aan die Oos-Rand is gisteroggend gestrand gelaat. Taxi-bestuurders staak oor ‘n kontrak wat aan ʼn privaat busmaatskappy toegeken is. Gauteng se LUR vir Paaie en Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, sê hulle wil die dooiepunt beëindig:
# Die Wes-Kaapse premier Alan Winde het sy kommer uitgespreek oor probleme met dienslewering wat inwoners van verskillende munisipaliteite, insluitend Knysna, teister. In ʼn verslag van 130 bladsye beveel die provinsie aan die Knysna-munisipaliteit moet sy besteding inkort, sy verhouding met die gemeenskap herstel, talle belangrike aanstellings maak om meer as 50-persent van die vakante poste te vul, en sy organisatoriese kultuur hersien. Winde sê hulle sal die stappe wat plaaslike regerings doen om dienslewering te herstel en finansies te bestuur, fyn dophou.
# Swede het twee jaar nadat hy aansoek gedoen het om by die die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie aan te sluit, amptelik die 32ste lid van dié militêre alliansie geword. Die Sweedse eerste minister, Ulf Kristersson, het die toetredingsdokumente formeel aan die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake in Washington oorhandig. Dit is die laaste stap om die goedkeuring van alle NAVO-lede te verkry. Swede se aansoek om by die alliansie aan te sluit, is aangespoor deur Rusland se inval in Oekraïne in Februarie 2022. NAVO se sekretaris-generaal Jens Stoltenberg sê Swede se toetrede versterk die alliansie as geheel.
# Krieket: Engeland se hulpafrigter, Marcus Trescothick, sê ten spyte van hulle vertoning op dag een van die vyfde en laaste toets teen Indië, is hulle nog lank nie oor die muur nie. Die draaiboulers Kuldeep Yadav en Ravi Ashwin het in Dharamsala nege paaltjies tussen hulle laat kantel en Engeland was almal uit op 218. Indië se telling was teen uitskeityd 135 vir een. Trescothick sê hulle kon nie genoeg vennootskappe bymekaar kry om ʼn groot telling op die telbord te sit nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-69-sent teen die dollar, 20-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-975-dollar-76-sent. Die prys van goud is twee-duisend-157-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….