Nuus 07:00
BULLETIN 28 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa herhaal sy oproep aan mans om op te staan teen geslagsgeweld en vrouemoord
# Feroz Khan sal na verwagting vandag weer voor die Madlanga-kommissie verskyn
# En krieket: Die Proteas beklink die eendagreeks teen Australië
# President Cyril Ramaphosa vra groter optrede teen oortreders van geslagsgeweld en vrouemoord, en sê mans moet vroue beskerm. Hy het gister by ‘n Evangeliese Presbiteriaanse Kerkdiens in Alberton gepraat waar die kerk die vlaag van geweld teen vroue uitgelig het. Elf vroue se liggame is die afgelope maande in Ekurhuleni gevind. Ramaphosa sê respek vir vroue moet aangeleer word as basiese erkenning van hul menslikheid eerder as ʼn daad van goedhartigheid:
# Die United Democratic Movement het die Departement van Basiese Onderwys se 2026 nasionale katalogus vir die grondslagfase verwelkom en gesê dit kan leesuitkomste vir graad een tot drie versterk. UDM-voorsitter Yongama Zigebe sê die verhoging van die aantal leesboeke van 12 na 40 per klas, met ‘n kernleesboek vir elke leerder, is ‘n betekenisvolle verbetering. Hy sê egter die katalogus sal slegs slaag indien leerders oor die regte boeke beskik wanneer skole in 2027 heropen, onderwysers ondersteun word, en vloeiende lees en begrip verbeter:
# Die afgedankte adjunkhoof van Misdaadintelligensie, Feroz Khan, verskyn na verwagting vandag weer voor die Madlanga-kommissie. Getuienisleiers het egter ʼn aansoek ingedien dat dele van sy getuienis in camera aangehoor word. Die aansoek hou verband met sekere WhatsApp-boodskappe en dokumente waarby Khan betrek word. Hy is gedagvaar om op 1 September te verskyn, maar hy het nie opgedaag nie. Sy prokureurs het aan die kommissie gesê hy herstel na ʼn beweerde sluipmoordpoging op 28 Junie. Die kommissie het opdrag gegee dat Khan ʼn onafhanklike mediese assessering ondergaan om te bepaal of hy kan getuig.
# Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, het die skietery by ‘n taverne in Wedela, Carletonville, veroordeel. Die voorval het Saterdagaand die lewens van 17 mense geëis terwyl 15 gewond is. Volgens voorlopige berigte het agt gewapende mans op kliënte binne en buite die perseel losgebrand. Vyf mense is buite doodgeskiet en 12 binne. Volgens Lesufi het die verdagtes, wat na bewering met AK-47-gewere en pistole gewapen was, selfone gesteel voordat hulle in twee voertuie gevlug het. Die voertuie is later aan die brand gesteek:
# President Donald Trump beskryf gister se inhegtenisneming van vyf mans naby RAF Fairford in Gloucestershire, Engeland, as “fantasties” en sê Amerika en Brittanje ondersoek die mans al ʼn geruime tyd. Hulle is aangekeer weens vermeende oortredings in verband met plofstof en terrorisme, nadat die bom-eenheid na ʼn ernstige voorval naby die militêre lugmagbasis uitgeroep is. Trump sê die mans “wou groot skade aanrig” by die fasiliteit, wat Amerika gebruik om verdedigingsoperasies teen Iran uit te voer.
# Krieket: Die Proteas het Australië met 32 lopies verslaan in die tweede eendagwedstryd op die Wanderers in Johannesburg om die reeks van drie wedstryde te beklink met een wedstryd wat oorbly. Kaptein Temba Bavuma en David Miller het onderskeidelik 103 en 142 behaal en 156 bygevoeg om die vierde paaltjie wat Suid-Afrika se telling op 365 vir nege gebring het. In antwoord daarop was Travis Head en Mitchell Marsh se aanvangsvennootskap van 130 lopies nie genoeg nie en Australië is op 333 uitgeboul. Die reeks eindig Woensdag in Potchefstroom, waarna drie toetse volg.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 21-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-755-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-213-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 102-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….