Nuus 07:00
BULLETIN 7 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika wil hê die Wêreldhof moet dringend optree om ’n volskaalse hongersnood in Gaza te voorkom
# President Ramaphosa sê die regering se sakevennootskap lewer positiewe resultate
# En, Navalny se weduwee vra die Russe om op verkiesingsdag teen Putin te betoog
# Suid-Afrika het weer die Internasionale Strafhof genader met ‘n dringende aansoek dat die voorlopige maatreëls wat in Januarie voorgeskryf is, versterk word. Hy wil hê die hof moet binne sy vermoë keer dat ‘n katastrofiese hongersnood in die Gaza-strook uitbreek. President Cyril Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê onder die Volksmoordkonvensie kom die doelbewuste vernietiging van lewenstoestande soos deur massa-uithongering en vernietiging van voedselstelsels neer op volksmoord:
# President Cyril Ramaphosa sê die vennootskap tussen die regering en die sakegemeenskap begin tasbare resultate lewer. Dit sluit in die vermindering in beurtkrag, verbeterde werkverrigting van die spoornetwerk en hawens, en ‘n vermindering in sekerheidsinsidente teen die krag- en logistieke infrastruktuur. Die president het gister ‘n virtuele vergadering met lede van die Kabinet en senior sakeleiers gehad. Ramaphosa sê hy is vol vertroue dat hulle besig is om die land se dringendste uitdagings aan te spreek.
# Build One South Africa se leier, Mmusi Maimane, sal vandag die toekoms van die party tydens ‘n nuuskonferensie voor die Onafhanklike Verkiesingskommissie se kantore in Tshwane bekendmaak. Dit volg ná die Konstitusionele Hof se weiering om ‘n dringende aansoek te aanvaar wat die groot aantal handtekeninge betwis vir nuwe deelnemers aan die komende verkiesing. As gevolg van dié terugslae, sal Maimane en ander BOSA-sleutelfigure nou hul volgende stappe aankondig, in reaksie op die hofuitspraak.
# Die Gautengse LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, sê hy is hartseer ná nog ‘n voorval waartydens ‘n graad elf-leerder van Jeppe High School for Boys in Johannesburg dood is. Hy is oorlede ná ’n rugbywedstryd teen Hoërskool Die Anker in Brakpan. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep het na die voorval sy dienste beskikbaar gestel vir bykomende ondersteuning vir leerders:
# Die ontslape Russiese opposisieleier, Alexei Navalny, se weduwee het haar landgenote aangemoedig om op verkiesingsdag teen president Vladimir Putin te betoog. Yulia Navalnaya het Russe gevra om op die 17de van hierdie maand lang toue by stemlokale te vorm. Haar man is verlede maand in ‘n Arktiese gevangeniskamp dood en Navalnaya het Putin die skuld gegee vir sy dood. Sy sê mense kan vir enige kandidaat behalwe die president stem, en die owerhede sal niks daaraan kan doen nie. Daar word nietemin verwag dat Putin ‘n vyfde termyn sal wen.
# Gholf: Die voormalige nommer een in die wêreld, Jon Rahm van Spanje, sê die Amptelike Gholf-rangstelsel dien nie meer sy doel nie. Dit volg nadat die Saoedi-ondersteunde LIV Golf League sy aansoek dat spelers wêreldranglys-punte vir sy toernooie ontvang, amptelik onttrek het. LIV is in Oktober verlede jaar akkreditasie geweier, hoofsaaklik omdat sy formaat slegs 54 putjies het en spelers word nie verminder nie. Die tweemalige Major-wenner sê dis duidelik die rangstelsel is nie reg nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-83-sent teen die dollar, 20-rand-52-sent teen die euro en 23-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-41-dollar-77-sent. Die prys van goud is twee-duisend-150-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….