Nuus 07:00
BULLETIN 26 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party se hofaansoek oor die verkiesingsuitslagstelsel word van die hand gewys
#Maatskaplike Ontwikkeling waarsku oor gevare vir kinders tydens die skoolvakansie
#En, Ethiopië en die Tigray People’s Liberation Front is in ’n volskaalse oorlog gewikkel
# Die Verkiesingskommissie verwelkom die Verkiesingshof se besluit om die MK-party se uitdaging oor die integriteit van die verkiesinguitslagstelsel van die hand te wys. Die party het die stelsel vir die 2024-verkiesingsresultate betwis en wou hê die verkiesing moes as nie vry en regverdig verklaar word. Die OVK gaan nou ‘n onafhanklike oudit finaliseer, terwyl politieke partye die stelsel van 5 tot 12 Oktober, voor die plaaslike regeringsverkiesing op 4 November, saam met hul kundiges kan toets.
# Die Minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Dina Pule, het ouers en versorgers aangemoedig om waaksaam te bly en kinders tydens die skoolvakansie te beskerm. Pule waarsku kinders kan kwesbaar wees vir mishandeling, ontvoering, seksuele aanranding en mensehandel, veral wanneer hulle reis of sonder toesig gelaat word. Die woordvoerder van die ministerie, Sandy Godlwana, sê ouers moet te alle tye weet waar hul kinders is en verseker hulle word nie aan onveilige situasies blootgestel nie:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Mobiliteit, Isaac Sileku, sê Golden Arrow Bus Services se geteikende tariefaanpassing sal help om die impak op pendelaars te beperk, veral diegene wat reeds met stygende lewenskoste te kampe het. Van Maandag af sal sekere kontanttariewe buite spitstye met gemiddeld 4,5-persent styg, terwyl tariewe vir “Gold Card“-multi-rit-kaarte en die meeste kontanttariewe tydens spitstye onveranderd sal bly. Sileku sê om sekere tariewe nie te verhoog nie, sal help om pendelaars te beskerm wat daagliks op openbare vervoer staatmaak:
# ‘n Volskaalse oorlog het in Ethiopië uitgebreek nadat sewe rebelle-groepe ʼn massiewe koalisie gevorm het om die federale regering omver te werp. Dit word aangevoer deur die Tigray People’s Liberation Front, en die alliansie sluit nou ook Amhara se Fano-soldate en die Oromo Liberation Army in. Rebellemagte het drie strategiese lughawens in Tigray oorgeneem en die Ethiopiese Lugredery gedwing om alle vlugte te kanselleer. Hewige gevegte op die grond en lugaanvalle brei tans uit na die naburige Afar en Amhara, wat duisende mense ontheem en noodsaaklike handelsroetes afgesny het.
En nou sportnuus:
# Rugby: Die skrumskakel Herschel Jantjies is gretig om sy beste te lewer met sy terugkeer na die Springbokke ná ‘n lang afwesigheid. Hy was deel van die span wat die Wêreldbeker in 2019 gewen het, maar het sedertdien grootliks van die toneel verdwyn weens beserings en strawwe mededinging, en het die afgelope drie jaar slegs een toetswedstryd gespeel. Die 30-jarige Jantjies en die ervare Handré Pollard is die skakelpaar in môre se toets teen die Wallabies in Perth. Hy sê hy is vuur en vlam en beskryf die mededinging tussen die skrumskakels as uitstekend.
# En ten slotte krieket: Die Proteas kan môre in die tweede wedstryd in Johannesburg die reeks van drie eendagwedstryde teen Australië beklink, ná ‘n oortuigende oorwinning in die eerste wedstryd in Durban. Matthew Breetzke, wat op Kingsmead ‘n honderdtal aangeteken het, sê die span het hul staal getoon al was vier beseerde snelboulers nie beskikbaar nie. Die draaibouler Keshav Maharaj het daarna sy klas gewys deur vier paaltjies te neem. Môre se wedstryd by die Wanderers is die jaarlikse “Pinkdag”-geleentheid ter ondersteuning van borskankerbewustheid. Die laaste eendagwedstryd word Woensdag in Potchefstroom beslis.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….