Nuus 07:00
BULLETIN 4 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IVP sê die ANC het Suid-Afrika gefaal en moet uitgestem word
# ‘n Peiling toon sommige Amerikaners glo Biden is te oud om doeltreffend te dien
# En, ‘n ernstige waarskuwing word uitgereik ten opsigte van swaar weer oor die Kaapse Wynland- en Overberg-distrikte
# Die IVP sê Suid-Afrikaners kan nie nog vyf jaar onder ‘n ANC-bewind bekostig nie. Die party het gister sy twee dae lange veldtog in KwaMashu en Phoenix in KwaZulu-Natal afgesluit. Dit is in aanloop tot die bekendstelling van sy verkiesingsmanifes Sondag by die Moses Mabhida-stadion in Durban. Die IVP-leier Velenkosini Hlabisa sê kiesers moet op 29 Mei in groot getalle na die stembus gaan om die ANC-regering ‘n rooi kaart te gee oor werkloosheid, beurtkrag, misdaad en korrupsie. Hy sê die regerende party het die land in die steek gelaat.
# Die vakbondfederasie Saftu veroordeel die minister van Openbare Ondernemings vir sy poging om die sake van die Suid-Afrikaanse Lugdiens oor die verkoop van ‘n 51-persent belang aan die Takatso-konsortium geheim te hou. Gordhan het verlede week aan die parlementêre komitee oor Openbare Ondernemings geskryf en versoek lede moet inligting oor die SAL geheim hou. ‘n Woordvoerder van Saftu, Trevor Shaku, sê die media is ook verbied om die komitee se sitting by te woon:
# Bekommerde ouers van Hoërskool Theresapark in die noorde van Pretoria betoog vandag om te eis dat bouwerk aan die skool afgehandel word. Die skool is verlede jaar begin as “oorvloei”-skool omdat te veel aansoeke in Pretoria-Noord ontvang is. Tydelike klaskamers is by Amandasig Secondary School opgerig om tussentydse verligting te bring. Thabo Qoako van die ouers se taakspan sê omdat die skool nie klaar gebou is nie, moet kinders op ʼn rotasiebasis skool bywoon:
# Een-en-sestig-persent van die Amerikaners wat in 2020 vir president Joe Biden gestem het, glo hy is weens sy ouderdom nie geskik om ʼn tweede termyn te dien nie. Dit is volgens ʼn meningspeiling van die New York Times en die Siena College. Op 81 is Biden die oudste dienende president in Amerika se geskiedenis. Indien hy in November weer verkies word sal hy aan die einde van sy termyn 86 jaar oud wees. Uit alle geregistreerde kiesers het 26-persent gesê Biden se ouderdom maak hom ondoeltreffend, maar hy kan die werk steeds goed genoeg doen.
# Gholf: Die Amerikaner Jordan Gumberg het sy eerste DP World Tour en Sonskyntoer gewen toe hy die Suid-Afrikaner Robin Williams in ʼn uitspeelstryd geklop het om met die louere weg te stap in die SDC-kampioenskap in die Oos-Kaap. Hulle was met 12 onder baansyfer gelyk in die eerste plek. Gumberg het van sowat 15 voet of 5 meter ʼn voëltjie behaal in die tweede uitspeelpoging vir ʼn oorwinning. Gumberg sê hierdie sege beteken alles vir hom:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-09-sent teen die dollar, 20-rand-71-sent teen die euro en 24-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-546-dollar-89-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-80-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-60-sent per vat.
# En, laastens: Die Wes-Kaapse rampbestuursentrum maak gereed vir ʼn afsny-laagdrukstelsel wat vandag tot hewige donderstorms en swaar reën in dele van die Kaapse Wynland- en Overberg-distrikte kan lei. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku swaar stortreën van 20- tot 40-millimeter, erge weerlig en hewige haelbuie met klein korrels kan verwag word. Die provinsiale regering sê plaaslike owerhede is gereed om enige gebeurlikheid te hanteer, maar die publiek moet versigtig wees en ag slaan op waarskuwings wat uitgereik word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….