Nuus 07:00
BULLETIN 20 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Elektrisiteit sê die regering beplan om Koeberg se lewensduur te verleng
# Die regering vra vir ‘n verlaging van die prys van die entstof teen MIV
# En, een van Napoleon se kenmerkende hoede verkoop vir meer as R38-miljoen op ‘n veiling
# Die Minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, sê die regering is besig om vinnig beleidskwessies deur te werk en duidelikheid te gee oor Suid-Afrika se energieverskeidenheid, ingryping met transmissie en bykomende opwekkingsvermoë. Hy het gister die jongste inligting oor die inwerkingstelling van die Energie-aksieplan bekendgemaak. Die minister sê hy is bemoedig deur die suksesvolle sinchronisering van Eenheid Een by die Koeberg-kernkragsentrale in Kaapstad. Ramokgopa sê sodra dié eenheid as stabiel geag word, sal Eenheid Twee afgeskakel word om sy stoomopwekkers te vervang:
# Die nasionale Departement van Gesondheid kritiseer die farmaseutiese maatskappy ViiV Healthcare vir hulle prys van die entmiddel teen MIV wat drie keer meer is as wat die regering kan bekostig. ViiV verkoop die twee-maandelikse inenting teen tussen 540- en 570-rand per eenheid, en maak daarop aanspraak dit skakel die risiko uit van MIV-besmetting deur seks. Die hoofdirekteur van Verkryging van die departement, Khadija Jamaloodien, moedig ‘n koste-doeltreffende benadering aan, en maak voorspraak vir ‘n redelike prys vir die entstof, in ooreenstemming met die daaglikse pil wat mondelings geneem word, teen 129-rand vir twee maande se voorraad.
# ANC-president Cyril Ramaphosa sê die regering erken daar was mislukkings met dienslewering en die voorsiening van skoon drinkwater aan sommige gemeenskappe. Hy het gister in die Groter-Tshwane-streek die ANC se kieserregistrasie-veldtog gelei op die tweede dag van die registrasienaweek. Ramaphosa het die gemeenskap van Hammanskraal beloof prosesse is aan die gang om die waterprobleme in die gebied aan te spreek. Hy het gesê mense van Hammanskraal sal binnekort skoon water en beter dienslewering hê.
# Die DA sê Gautengse munisipaliteite het die afgelope vyf jaar 3,3-miljard-rand bestee om chemiese toilette te huur eerder as om inwoners te voorsien van waardige behuising met behoorlike toilette. Die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Mzi Khumalo, sê Ekurhuleni het die meeste geld aan chemiese toilette bestee, gevolg deur die Stad Johannesburg en Mogale City. ʼn DA-woordvoerder, Dorianne Arendse, sê hierdie geld kon gebruik word om die lewensomstandighede van inwoners in plakkerskampe te verbeter:
# Gholf: Nicolai Hojgaard van Denemarke het in ʼn dramatiese laaste ronde 64 behaal om die laaste DP World Tour-kampioenskap van die seisoen in Dubai met twee houe te wen. Die 22-jarige het op 21 onder baansyfer klaargemaak, twee houe voor Viktor Hovland van Noorweë en Matt Wallace en Tommy Fleetwood van Engeland op 19 onder. Die verdedigende kampioen van Spanje, Jon Rahm deel die vyfde plek na ʼn finale ronde van 66 en Rory McIlroy van Noord-Ierland het sy seisoen afgesluit met ʼn gelykop 22ste na ʼn twee onder 70. Hojgaard sê dit was iets besonders om die titel te wen:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-28-sent teen die dollar, 19-rand-96-sent teen die euro en 22-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-300-dollar-29-sent. Die prys van goud is een-duisend-982-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-14-sent per vat.
# En ten slotte, ʼn swart hoed wat Napoleon Bonaparte gedra het toe hy die Franse keiserryk in die 19de eeu regeer het, is by ʼn veiling in Parys vir 38,63-miljoen-rand verkoop. Osenat-afslaers sê die hoed is een van 20 wat is oor is van die 120 wat die Franse militêre kommandeur glo in sy leeftyd besit het. Die koper wil anoniem bly. Dit kom in afwagting van Ridley Scott se Napoleon-fliek met Joaquin Phoenix in die hoofrol wat hierdie maand vrygestel word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….