Nuus 07:00
BULLETIN 18 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê hy sien daarna uit om terug te keer werk toe
# Die Nasionale Taxivereniging vra vir ’n brandstofkorting vir sekere minibus-taxi’s
# En koning Charles waarsku teen die gevare van kunsmatige intelligensie
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê hy sien daarna uit om sy pligte ten volle te hervat en die nasie met nuwe energie en toewyding te dien. Oudpresident Thabo Mbeki, vergesel van die Thabo Mbeki-stigting se uitvoerende hoof, Max Boqwana, het gister ‘n hoflikheidsbesoek aan die adjunkpresident gebring, terwyl hy van ʼn onlangse mediese prosedure herstel. Mashatile het foto’s van hom en Mbeki op X geplaas. Dis die eerste openbare foto’s van hom sedert hy middel-Julie siek geword het. Hy sê die besoek was hartlik en gerusstellend.
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê raswette veroorsaak nie net regstreekse skade nie, dit het ook ander negatiewe gevolge. Dit belemmer groei en belegging en weerhou mense van geleenthede weens hul ras of geslag. Amerika het nuwe visumbeperkings op Suid-Afrika ingestel wat verband hou met raswette en onteiening sonder vergoeding. Die instituut se uitvoerende hoof, John Endres, sê die beperkings is nie ʼn verrassing nie. Hy sê Washington het reeds verlede jaar sy besorgdheid bekendgemaak, maar Pretoria het sedertdien niks aan die betrokke wette gedoen nie:
# Die National Taxi Alliance het die regering gevra om ʼn geteikende brandstofkorting vir ʼn minimum tydperk van 12 maande in te stel vir kwalifiserende minibustaxi-operateurs, terwyl breër ekonomiese en openbarevervoer-hervormings afgehandel word. Operateurs het probleme soos stygende brandstofpryse, instandhouding, die prys van versekering, en pendelaars wat nie skerp stygings kan bekostig nie. Die NTA sê die regering beskik reeds oor regulerings-, lisensiëring- en elektroniese-betaling-instrumente wat gebruik kan word om operateurs wat kwalifiseer te verifieer en misbruik te beheer. Hy sê die brandstofkorting kan onmiddellike druk verlig.
# Die sekretaris van die ANC in die Oos-Kaap, Lulama Ngcukayitobi, dreig met regstappe teen die party se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, oor bewerings dat hy verantwoordelik was vir die laat indiening van kandidaatlyste by die Verkiesingskommissie. Ngcukayitobi ontken die bewerings, insluitend dat hy ’n lys wat deur die Nasionale Uitvoerende Komitee goedgekeur is, gewysig het, en hy eis ’n volledige terugtrekking van die bewering. Sy regsverteenwoordigers het Mbalula tot Dinsdagmiddag tyd gegee om die uitlatings terug te trek, anders kan hy moontlik onderwerp word aan regsoptrede in die Hooggeregshof.
# Koning Charles het leiers in kunsmatige intelligensie gewaarsku teen die gevare indien die tegnologie in die verkeerde hande sou beland. Dit volg nadat twee Anthropic-navorsers gewaarsku het KI se vinnige vordering kan moontlik in die nabye toekoms tot die mensdom se uitwissing lei. Koning Charles sê kunsmatige intelligensie kan lewens red en verbeter, veral wat lewenswetenskappe en medisyne betref. Hy voeg egter by daar is ʼn dringende behoefte om die gevare te oorweeg indien sulke tegnologieë op katastrofiese maniere gebruik word:
# Krieket: Die Australiese kolwer Steve Smith sê herinnerings aan 2018 se balpeutery-skandaal spook steeds by hom voor hy die eerste keer sedertdien weer ‘n toetsreeks in Suid-Afrika gaan speel. Hy sê die geluid van kamera-flitse laat hom dink aan die gevolge van die derde toets in Kaapstad, wat gelei het tot ‘n skorsing van ‘n jaar en wat hom die kapteinskap gekos het. Smith sê egter hy het aanbeweeg en sal enige vyandige verwelkoming gebruik as motivering wanneer die toetsreeks op 9 Oktober begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-25-sent teen die dollar, 18-rand-65-sent teen die euro en 21-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-658-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-349-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 105-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….