Nuus 07:00
Bulleti
BULLETIN 28 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cyril Ramaphosa sê die ANC moet ondersteuners wat na geleenthede reis se veiligheid verseker
# Die Nasionale Raad van Provinsies aanvaar die Wysigingswetsontwerp op Skuldverligting aan Eskom
# En, ses verdagtes is vas in verband met die moord op AKA en Tibz
# President Cyril Ramaphosa sê die ANC moet seker maak alle veiligheidsmaatreëls word nagekom wanneer mense na en van sy geleenthede vervoer word. Hy het gister in Mpumalanga die gesinne van nege ANC-ondersteuners besoek wat in ‘n busongeluk dood is nadat hulle die bekendstelling van die party se verkiesingsmanifes in KwaZulu-Natal bygewoon het. Ramaphosa sê die party en die Mpumalanga-regering sal die nodige ondersteuning aan die families verskaf:
# Die Nasionale Raad van Provinsies het ten gunste van die Wysigingswetsontwerp op Skuldverligting aan Eskom gestem, ten spyte van die DA en EFF se teenkanting. Die wetsontwerp wil die Wet op Skuldverligting aan Eskom van 2023 wysig om die minister van Finansies, Enoch Godongwana, toe te laat om rente te hef op die miljarde rand se skuldverligtingsfondse wat aan die kragverskaffer voorsien word. Eskom het 44-miljard-rand van Nasionale Tesourie ontvang as deel van die 78-miljard-rand wat in 2023/2024 aan hom toegewys is.
# Die polisie sê ses verdagtes wat verbind word met die moord op die kletsrymer Kiernan ‘AKA’ Forbes, en sy vriend Tebello ‘Tibz’ Motsoane, is gearresteer. Die twee is op 10 Februarie verlede jaar buite die Wish Restaurant in Florida-weg in Durban doodgeskiet. KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, sê die musikant is agtervolg vandat hy op die King Shaka-lughawe in Durban geland het, na sy hotel in Umhlanga en toe na die restaurant waar hy doodgeskiet is:
# ActionSA se leier, Herman Mashaba, sal môre die party se kandidaat vir Gautengse premier in Newtown aankondig. ActionSA beklemtoon Gauteng se belangrikheid as ‘n kragtige plek wat ‘n deurslaggewende rol sal speel in die bepaling van Mei se verkiesingsuitslag. Mashaba sê die kandidaat se verantwoordelikhede sal insluit die herlewing van die provinsiale ekonomie, die lok van beleggings en die verbetering van die lewens van inwoners van Gauteng, wat Suid-Afrika se ekonomiese spilpunt is.
# Die Japannese regering het ongekende stappe aangekondig weens die land se rekordlae geboortesyfer – insluitend die uitbreiding van kindersorg en groter salarisverhogings vir jonger werkers. Japan het verlede jaar ‘n afname van 5,1-persent in geboortes getoon tot 758-duisend-631, en ‘n afname van 5,9-persent in huwelike, wat die eerste keer in 90-jaar tot onder 500-duisend gedaal het. Eerste minister Fumio Kishida, noem die dalende geboortesyfer die land se ergste krisis en beoog om die neiging om te draai voor die bevolking teen 2070 met ongeveer 30-persent tot 87-miljoen daal.
# Gholf: Thomas Aiken van Suid-Afrika sê hy is vol vertroue oor die SDC-kampioenskap by St Francis Links in die Oos-Kaap. Matthew Baldwin van Engeland is die verdedigende kampioen. ʼn Topfiks Zander Lombard en DP World- Toer-wenners Thriston Lawrence, Ockie Strydom en Dylan Frittelli sluit saam met Aiken by ʼn sterk Suid-Afrikaanse groep aan. Aiken sê hy het ʼn paar moeilike jare agter die rug, maar hy speel nou beter as ooit:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-9-sent teen die dollar, 20-rand-70-sent teen die euro en 24-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-918-dollar-38-sent. Die prys van goud is twee-duisend-30-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….